fbpx
Vryheidsfront Plus

Kernreguleerder: Waarom word die waghond verwyder?

Die afdanking vandeesweek van 'n raadslid van die Nasionale Kernreguleerderraad (NKR), mnr. Peter Becker, deur die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, maak steeds opslae en die vraag moet gevra word waarom die minister die publiek se waghond in die raad verwyder het.

In 'n brief aan Becker se regsverteenwoordiger lig minister Mantashe Becker in dat die voorsitter van die raad 'n regsopinie ingewin het oor die vraag of Becker se optrede 'n belangebotsing met die raad verteenwoordig. Hierdie drastiese optrede laat dit lyk of die waghond om een of ander rede verwyder word.

Mantashe versuim om op die inhoud van die beweerde optrede in te gaan, maar oordeel dat die bewerings so ernstig is dat Becker geskors moet word, hangende 'n finale besluit. Becker mag wel skriftelike vertoë rig oor waarom permanente verwydering van die raad nie behoort te volg nie.

Die agtergrond tot Becker se aanstelling op 10 Junie 2021 en sensitiewe besluite rakende die Koeberg-kernkragsentrale sedertdien, skep wantroue en die moontlikheid dat die verdoeseling van sensitiewe inligting hier betrokke mag wees.

Becker is 'n aktivis van die Koeberg Alert Alliance (KAA), ‘n burgerlike organisasie wat op 'n volgehoue grondslag kritiese vrae oor die bedryf van die Koeberg-kernkragsentrale vra.

In gesprekke rondom die verlenging van dié kragsentrale se leeftyd wat eersdaags ten einde behoort te loop, het die KAA op die voorgrond getree. Daar is ook destyds beweer dat die raad met sy oorsigfunksie oor die opwekking van kernkrag, deur kernkragondersteuners oorheers is.

Becker se aanstelling is in 2021 verwelkom, omdat dit moontlik groter balans sou bring. Hy het sedertdien sy standpunt uitgespel dat hy 'n Suid-Afrika sonder kernkrag verkies, maar indien dit onmoontlik is, seker wil maak dat sulke krag veilig opgewek en die afval veilig hanteer word.

Met die aanstelling van Becker is nog drie raadslede aangestel, waarvan een, mnr. Allan Taylor, 'n spesiale raadgewer was van 'n vorige energieminister, me. Tina Joemat-Pettersson.

Sy was omstrede vanweë haar betrokkenheid by die voorgestelde kernkragooreenkoms met Rusland wat tydens verhore van die Zondo-kommissie herhaaldelik ter sprake was.

In die tussentyd het verskeie energiekenners huiwering oor of selfs teenstand teen die verlenging van Koeberg se leeftyd uitgespreek. Die mening is uitgespreek dat veiligheidstandaarde aansienlik verhoog het sedert Koeberg in die jare sewentig ontwerp is. Voldoening aan huidige standaarde sal eintlik 'n volledig nuwe kragsentrale vereis.

Die vraag kan ook gevra word of 'n staatsonderneming, wat die vertroude tegnologie van steenkoolkragsentrales kan verbrou soos die geval met Eskom is, vertrou behoort te word met iets wat soveel gevaar vir so 'n lang tydperk inhou soos die Koeberg-kragsentrale.

Met die besluit om Becker te skors, is die reguleringsraad weer in dieselfde wanbalans as voor sy aanwysing. Dit is belangrik om daarop te let dat 'n reguleringsraad juis persone vanuit alle gesigspunte moet insluit. Dit is die waarborg dat ongemaklike waarhede nie onder 'n strooplaag verberg sal word nie.

Volgens die VF Plus dui Becker se skorsing op moontlike probleme by Koeberg. Die vraag is net of dit reeds duidelik geword het; en of dit eersdaags verwag word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.