Die minister van energie, me. Tina Joemat-Pettersson, probeer die beplande kernkragbouprogram met verdagte syfers aan Suid-Afrika afsmeer, sê die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie, adv. Anton Alberts.
Volgens adv. Alberts kan gewone landsburgers die hele plan dwarsboom deur krag letterlik, in die vorm van sonkrag, in eie hande te neem.
Hy sê verbruikers kan tans op dié manier krag teen 40c per eenheid opwek, in teenstelling met Eskom se groothandelsprys van ongeveer 80c en munisipale tariewe van rondom R1,60.
Boonop geld die 40c net vir die betaalperiode van vyf jaar, terwyl die panele vir nog 20 jaar teen volle kapasiteit kan opwek. Daarna daal effektiwiteit tot sowat 80%, wat steeds baie nuttig is.
Die Noord-Kaapse VF Plus-leier, dr. Wynand Boshoff, wys daarop dat daar geen mark vir kernkrag sal wees indien die dakke van huise, skole, kerke, industriële- en landboustrukture vir die opwekking van sonkrag aangewend word nie.
Hy sê die VF Plus beywer hom nog altyd vir selfstandige gemeenskappe en hierdie is 'n uitstekende geleentheid vir gemeenskappe om hulself, liewer as 'n politieke keurgroep, ekonomies te bemagtig.
Vir meer inligting:
Adv. Anton Alberts: 082 391 3117
Dr. Wynand Boshoff: 074 166 5540