Die besluit van die Valke om die minister van finansies, Pravin Gordhan, te dagvaar om voor die hof te verskyn, dui op ‘n totale gebrek aan presidensiële leierskap en hou ernstige komplikasies vir die land se ekonomie in, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Dr. Mulder sê dit is veral die deurlopende gebrek aan leierskap van pres. Jacob Zuma oor die aangeleentheid wat tot die huidige verwarring gelei het.
“Wat nou gebeur het, het ‘n streep getrek deur die pas afgelope buitelandse besoek van min. Gordhan, die Reserwebank en van die land se voorste sakeleiers om beleggers na die land te lok.
“Min. Gordhan se boodskap aan beleggers was dat hy ekonomiese groei van meer as 1% vir 2017 vir Suid-Afrika verwag. Met die huidige debakel lyk dit nie meer haalbaar nie. Die feit dat die Rand vanoggend reeds sowat 40 sent aan waarde teenoor die Amerikaanse Dollar verloor het, dui op die skade wat reeds aangerig is.
“Die kredietagentskap Standards en Poor’s het onlangs juis gewaarsku dat dit hoofsaaklik die politieke spanning en beleids-onsekerheid van die ANC-regering is wat ekonomiese hervorming en vooruitgang in die land bemoeilik.
“Dit is inderdaad so dat daar geen koördinasie en eenheidsbeeld aan die kant van die regering oor die land se ekonomie is nie. Dit voorspel niks goed vir die Desember-graderings nie,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670