Die VF Plus volg met belangstelling die saak van mnr. Matian van Vuuren teen die Rand West-munisipaliteit wat in die Randfonteinse landdroshof voorkom en steun mnr. Van Vuuren in die saak.
In die saak word Temba Goba, munisipale bestuurder van Rand West, ook in sy private hoedanigheid aangekla oor misdrywe rakende watergebruik. Die toetssaak word in terme van artikel 151 van die Nasionale Waterwet 36 van 1998 aangehoor. Artikel 151 skep verskeie misdrywe ten aansien van watergebruik.
Die klaer het reeds drie jaar gelede ‘n klag by die by die polisie ingedien oor die buitengewone besoedeling van die Rietspruit wat deur Randfontein vloei.
Inwoners van dorpe gaan nie langer apaties toekyk hoe riool vrylik in strate en riviere afstroom nie.
Die Randfonteinse rioolwerke is daarvoor bekend dat dit vir jare nie die dorp en omgewing ten volle kon bedien nie. Riool vloei gereeld in die woonbuurt Greenhills se strate, boere kla hul ondergrondse water word besoedel en hulle ly groot verliese weens vee-sterftes.
Die VF Plus sal ook binne die raad bly veg vir die regte van die dorp se inwoners en sal ondersteuning bied aan hofsake wat daarop gemik is om dienslewering in munisipaliteite te verbeter.
Kontaknommer: 082 6128308


