(Ledeverklaring in die parlement)
Internasionale Moerdertaaldag is onlangs gevier. ‘n Dag waarop daar wêreldwyd erkenning gegee word aan die belang en waarde van elkeen se moedertaal.
Die tema vir vanjaar se Internasionale Moedertaaldag was "Die bevordering van veeltaligheid vir insluiting in die onderwys en die samelewing”.
Tale, met hul ingewikkelde implikasies vir identiteit, kommunikasie, sosiale integrasie, opvoeding en ontwikkeling, is van strategiese belang vir mens en planeet. Weens globaliseringsprosesse word tale toenemend bedreig of verdwyn dit heeltemal.
Wanneer tale vervaag, verdwyn ook die wêreld se ryk tapisserie van kulturele diversiteit. Geleenthede, tradisies, geheue, unieke denk- en uitdrukkingswyses, wat waardevolle hulpbronne is om 'n beter toekoms te verseker, gaan ook verlore.
Dit word ongelukkig hier op ons drumpel toegelaat, in ons eie land Suid-Afrika, wat bekend is vir sy kulturele diversiteit en veeltaligheid.
Die feit dat daar nie erns gemaak word van grondwetlike bepalings oor taal, die uitbou, behoud en beskerming daarvan nie, is uiters kommerwekkend.
Provinsiale taalwette word agterweë gelaat en die verwaarlosing van moedertaalonderrig, oftewel die jag wat die ANC-regering daarop maak, dra by tot die globale agteruitgang van kulturele diversiteit.
Dit is onaanvaarbaar en mag nie toegelaat word nie. Dit is die regering se taak om grondwetlike bepalings toe te pas en inheemse en moedertale te beskerm, te bevorder en te ontwikkel tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.