fbpx
Vryheidsfront Plus

Premier van Limpopo gebruik Covid-19 as verskoning vir verval en korrupsie

(Debat oor Limpopo-provinsiale rede)

Die premier van Limpopo, Stanley Mathabatha, leef in ‘n droomwêreld waar hy groot drome oor die toekoms droom terwyl hy Covid-19 voorhou as die rede vir die daaglikse korrupsie en agteruitgang van die provinsie.

Planne sonder optrede is waardeloos. Die premier met eerder aandag skenk aan die rede waarom soveel vorige projekte nooit voltooi is, of misluk het nie.

Hy het ook geen melding gemaak van daadwerklike optrede teen korrupte amptenare en hoe die miljoene rand wat gesteel is, verhaal gaan word nie. In stede van vervolging, word korrupte amptenare beloon deur hulle te ontplooi in selfs beter poste.

Hierdie situasie lei tot die verval van munisipaliteite en departemente in die provinsie.

Watertoevoer na dorpe is in stryd met basiese menseregte en is die gevolg van wanadministrasie en ‘n gebrek aan beplanning. Ondanks die projekte wat wel aan die gang is, moet daar nog baie gedoen word, aangesien verskeie dorpe in die provinsie jare reeds sonder water is.

Paaie is vervalle en instandhouding geskied traag of glad nie wat lei tot finansiële verliese vir inwoners, boere en sake-ondernemings.

Die premier glo verkeerdelik dat die kosmetiese veranderinge by onder meer die Mogalakwene-plaaslike munisipaliteit tot ‘n verbetering in dienslewering sal lei. Die situasie is eerder besig om te versleg.

Limpopo se gesondheidsdepartement kon nie daarin slaag om provinsiale hospitale betyds gereed te kry te vir die Covid-19-pandemie nie. Verder skiet gesondheidsorg in die provinsie ver te kort.

Misdaad vier hoogty en veral misdade soos plaasmoorde en misdade teen vroue en kinders moet dringend behandel word.

Die premier het nie besonderhede gegee van sy planne om Limpopo se ekonomiese herstel te versnel nie. Daar is geen planne om ondernemerskap te stimuleer en rompslomp wat die skepping van werksgeleenthede en ekonomiese groei kan belemmer, uit te skakel nie.

Die ontwikkeling van die spesiale ekonomiese sone (SES) van Musina-Makhado is ‘n omstrede projek weens die omgewingssensitiwiteit van die gebied.

Die VF Plus sal wil sien dat alle nywerheidsgebiede in die provinsie tot SES’s verklaar word om entrepreneurskap en beleggings na die provinsie te lok. Die VF Plus stel ook voor dat van die sones in Limpopo vrygestel word van enige regeringsinmenging en dat die ontwikkelingsresultate daarvan vergelyk word met dié van ander SES’s wat onderwerp is aan regeringsinmenging.

Die party verwelkom die ondertekening van diensleweringsooreenkomste met LUR’e en versoek dat die kontrakte beskikbaar gestel word om oorsig te vergemaklik.

Die VF Plus sal nie toekyk hoe voortslepende korrupsie en onbevoegde amptenare die provinsie langer gevange hou en in die pad staan van skoon en doeltreffende regering nie. Die tyd het aangebreek om hierdie mense verantwoordelik te hou vir hul optrede.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Armand Cloete

Premier moet ingryp by Matjhabeng-waterkrisis

Die VF Plus eis dat die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, moet ingryp by die voortslepende waterkrisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia,

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.