Die ANC is besig om die Suid-Afrikaanse samelewing effektief uitmekaar te skeur en in twee kampe te verdeel met die wyse waarop die organisasie tans hulle veldtog oor rassisme voer.
Rassisme van swart en van wit kant dra die kiem om Suid-Afrika en alle verhoudinge te vernietig. Daarom moet alle leiers hulle ten sterkste daarteen uitspreek. Leiers bepaal grootliks die trant en styl van sulke openbare debatte.
President Mandela het dit in die verlede bewys. Ons kort tans sulke leierskap van alle kante. President Zuma en ander leiers doen tans die teenoorgestelde deur alle probleme in Suid-Afrika 'n rasse-kleur te gee en op wittes te blameer.
As die ANC of enige ander party besig is om rassisme op hierdie wyse as ‘n kort termyn-verkiesingstrategie te gebruik, is dit uiters onverantwoordelik en kortsigtig want die skade wat in die enkele maande se aanloop na die verkiesing aan verhoudinge in Suid-Afrika aangerig word, sal jare neem om te herstel.
Soos die ANC tans rassisme definieer is alle wittes rassiste omdat hulle volgens die ANC in die verlede bevoorreg was. Dit is ‘n totale oorvereenvoudiging van die verlede en van rassisme. Om daarby die Afrikaner se geskiedenis en leiers wat Afrikaners as helde sien, misdadigers te noem, skep ‘n onoorbrugbare kloof.
Vir die wyse waarop president Paul Kruger Britse kolonialisme en imperialisme beveg het, is hy een van my helde. Geen ANC propaganda sal my standpunt daaroor verander nie. In 2012 is Paul Kruger in ‘n landswye kompetisie deur talle Afrikaners as die grootste Afrikanerleier aangewys.
Daar moet aanvaar word dat Suid-Afrikaners nie geforseer kan word om deur een ANC-bril na die verlede te kyk nie. Eenheid in verskeidenheid laat juis ruimte vir verskille. Toe Durban Internasionale lughawe na King Shaka Internasionale lughawe vernoem is, het die Vryheidsfront Plus om presies hierdie rede nie beswaar gemaak of ‘n debat oor Koning Shaka se menseregte geskiedenis geopen nie wetende dat hy ‘n held vir die Zoeloesprekendes is.
As ons nie hierdie ruimte aan mekaar kan gun nie, is die ANC se Freedom Charter-bewoording dat die land aan swart en wit behoort holle propaganda. Indien ons ernstig is om 'n beter toekoms vir almal in Suid-Afrika te bewerkstellig, mag daar nie voortgegaan word om alle wittes te straf en alle swartes as slagoffers voor te gee nie.
Hieronder my destydse bydrae waarom ek Kruger as een van die grootste Afrikanerleiers sien.
http://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/mulder-oor-paul-kruger-as-grootste-afrikanerleier-2/
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670