Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Hoërskool Thubelihle: Lesufi faal skole in informele nedersettings, maar maak tyd om Afrikaanse skole te teiken

Die VF Plus betreur die gebrek aan kwaliteit van skole in Gauteng, veral in informele nedersettings, terwyl die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, tyd maak om Afrikaanse skole te teiken.

Die VF Plus maak hierdie opmerking teen die agtergrond van gebeure by Hoërskool Thubelihle in Soweto waar ontstoke ouers die skool gedwing het om te sluit weens die haglike toestand van die skool se infrastruktuur.

Luidens 'n berig van eNCA het woedende ouers die skool gedwing om te sluit aangesien daar gedeeltes van die skool is wat in vyf jaar nog nie klaar gebou is nie en van die geboue geen deure en vensters het nie. Dit is veral belangrik om toe geboue te hê met die winter in aantog.

Die VF Plus vind hierdie gebeure ironies, veral omdat die LUR in sy terugvoering aan die Gautengse wetgewerkomitee oor onderwys homself hoog opgee oor sy goeie bestuur van skole asook die kwaliteit van die geboue.

Die ironie gaan verder ook nie verlore dat die LUR heelwat tyd bestee aan die teiken van Afrikaanse skole om anderstalige leerders in te neem om die probleem van toegang aan te spreek nie, terwyl Afrikaanse skole in totaal slegs 6% van alle openbare skole in Gauteng uitmaak.

Selfs indien alle Afrikaanse skole gedwing word om net in Engels onderrig te gee, sal dit nie die toegangsprobleem oplos nie, aangesien die oplossing lê by die opgradering van bestaande skole soos die Hoërskool Thubelihle en die bou van nuwe skole.

Dit lyk eerder of Lesufi die aandag wil aftrek van sy swak bestuur en onderhoud by openbare skole deur oral rassiste te soek. ‘n Voorbeeld is die Hoërskool Jan Viljoen-sage waar ondersoeke binnekort gaan toon dat rassisme nie die oorsaak van die konflik tussen leerders was nie, ten spyte van Lesufi se openbare uitsprake tot die teendeel.

Die gebeure by Hoërskool Thubelihle moet ook verstaan word teen die agtergrond van 'n geskrewe vraag wat die VF Plus aan die Gautengse onderwysdepartement gerig het om vas te stel of alle openbare skole jaarliks geïnspekteer word vir strukturele veiligheid.

Lesufi het geantwoord dat dit wel gebeur en dat sy departement 57 skole geïdentifiseer het wat aandag moet geniet (sien aangehegte vraag en antwoord).

Die geskrewe antwoord van Lesufi maak egter geen melding van Hoërskool Thubelihle nie wat 'n klinkklare bewys is dat die Lesufi se jaarlikse inspeksies by skole nie volledig is nie.

Dit verduidelik ook die tragiese gebeure by die Hoërskool Driehoek drie jaar gelede.

Die VF Plus gaan Lesufi hieroor konfronteer sodat sy departement daadwerklike aandag gee aan skole wat werklik hulp benodig sodat Afrikaanse skole uit die spervuur gehaal kan word.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.