fbpx
Vryheidsfront Plus

Hoe meer planne, programme, hoe swakker raak die staatsdiens

(Parlementêre begrotingsdebat: Staatsdiens en administrasie)

Nieteenstaande die gesukkel met die onlangse nasionale sensusopname, blyk dit dat Statistieke SA die enigste staatsonderneming in Suid-Afrika is wat nog vertroue inboesem. Die res van die staatsdiens steek egter sleg hierteen af.

Vir ‘n publiek wat oor jare hul vertroue in dienslewering verloor het, is dit seker goed om herinner te word aan dít wat ‘n staatsdiens moet wees.

‘n Staatsdiens moet doeltreffend, ontwikkelingsgeoriënteerd, professioneel en verantwoordbaar wees. Grondwetlike waardes en beginsels op alle vlakke van die openbare administrasie mag nie onderhandelbaar wees nie en die departement moet toesien dat hierdie mandaat uitgevoer word.

Daar is wel pligsgetroue en hardwerkende amptenare, maar die toenemende swak diens en agteruitgang van die staatsdiens is bekend.

Wanneer ‘n nuwe ma twee jaar moet wag vir haar kraamverlofeis om deur die werkloosheidsversekeringsfonds se personeel verwerk te word nadat sy ses keer dieselfde dokumente moes indien omdat personeel die dokumente misplaas en verloor, sal sy nie die staatsdiens vertrou nie.

Wanneer ‘n bejaarde dame deur ‘n verpleegster in ‘n staatshospitaal kaal uitgetrek word en weerloos op haar bed gelos word vir almal om te sien, sal sy en haar familie nie die staatsdiens vertrou nie.

‘n Leerlingbestuurder wat nie ‘n afspraak kan kry om sy bestuurslisensieaansoek te voltooi om vir ‘n werk aansoek te kan doen nie – omdat die lisensiekantoor een personeellid en geen administratiewe toerusting het nie – sal die staatsdiens nie vertrou nie.

Tog het die staat se salarisrekening reël met 40% gestyg oor die afgelope 14 jaar wat dit die grootste enkele uitgawe van die staat maak. Hoe swakker die staatsdiens, hoe meer kos dit die belastingbetaler.

Nieteenstaande nasionale opleiding vir staatsamptenare, programme en planne om te verbeter, bly alles eindelik net leë woorde.

Meer as ‘n derde van alle staatsamptenare is nie gekwalifiseerd vir hul poste nie en produktiwiteit en diens raak al hoe swakker.

Die openbare dienstekommissie (ODK) wat ‘n waghondrol moet vertolk oor dienslewering, is eweneens ‘n wagter sonder blaf of byt.

Indien hierdie vermelde entiteite hul werk en toesighoudingsrol deeglik uitgevoer het, sou die staatsdiens nie in duie gestort het soos besig is om te gebeur nie.

Alles waarby die regering betrokke is, misluk. Suid-Afrika en sy mense verdien beter as die ANC.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.