(Begrotingsdebat in parlement: Maatskaplike ontwikkeling)
Die departement van maatskaplike ontwikkeling en sy entiteite was veronderstel om ‘n sleuteldepartement te wees gedurende die afgelope Covid-19-ramptoestand en ‘n lig aan die einde van ‘n baie donker tonnel vir die mees behoeftiges in Suid-Afrika.
Die realiteit is egter dat hierdie departement en sy entiteite die mense gefaal het.
Moeder Teresa het eenkeer gesê:
“Ons dink soms dat armoede net honger, naak en haweloos is. Die armoede om ongewens, ongeliefd en onversorgd te wees, is die grootste armoede. Ons moet in ons eie huise begin om hierdie soort armoede reg te stel.”
‘n Saak wat die minister vandag moet aanspreek, is die hofsaak tussen SA Kindersorg en die departement oor die uitbetaling van die voorwaardelike vroeë kinderontwikkelingstoelaag (VKT) wat R15 per kind per dag beloop.
Dit is vir kinders wat weeskinders is of absoluut geen ander bron van voeding of sorg het nie. Goedkeuring vir die toelaag volg ‘n streng proses binne die raamwerk van die Wet op die Verdeling van Inkomste (Dora).
In gevalle is aansoeke reeds in 2019 goedgekeur, maar geen uitbetaling is gemaak nie.
Kwesbare kinders wat afhanklik is van hierdie toelaag vir voedsel, is gedurende die ergste tye – die pandemie – daarvan ontneem.
Die toelae is eerder aangewend om persoonlike beskermende toerusting aan te skaf.
Regter Jansen van Nieuwenhuizen het in die aanvanklike hofuitspraak bevind dat die minister en agt provinsiale LUR’e hul statutêre pligte soos voorgeskryf in Dora verbreek het deur nie die fondse wat aan die kinders toegeken is, te betaal nie.
Hulle het ook versuim om hul grondwetlike pligte na te kom soos voorgeskryf in Artikel 28(1)(c) van die Grondwet.
In stede daarvan om die hofuitspraak te eerbiedig, het die minister en LUR’e (nadat hulle by meer as tien geleenthede toegegee het dat die geld verskuldig is) teen die bevel geappelleer. Verlof tot appèl is in Desember 2020 toegestaan.
Agtien maande later is daar 'n kennisgewing vir verhoor en 'n nuwe opdrag om te argumenteer of die saak nie akademies van aard geword het nie. En steeds het geen amptenaar voor die hof verskyn nie en die kwesbares ly steeds.
Hierdie saak moet in belang van die kinders opgelos word.
Dit is verder ‘n skreiende skande dat vir meer as nege jaar daardie toelaag vasgesteek het op R15 per kind per dag.
Terwyl die regering geld mors op duur funksies, hotelverblyf, BBP-beskerming en sakeklasvlugte vir ministers, kry hierdie kinders slegs R15 per dag vir kos, klere en skooltoebehore.
Indien die departement nie gaan begin fokus op die versorging en ontwikkeling van kinders nie, sal Suid-Afrika ‘n welsynstaat bly.
Die probleem lê by die ANC wat alles ideologies aanpak en verkies om die mense afhanklik te hou van welsynstoelae eerder as om hulle te bemagtig om hul regmatige plek in die ekonomie op te neem.
Indien die minister en haar departement nie hierdie kopskuif maak nie, gaan Suid-Afrika nie net ‘n gefaalde staat wees nie, maar ook ‘n welsynstaat.
Die mense van Suid-Afrika verdien beter as die ANC-regering.