fbpx
Vryheidsfront Plus

Hoë sterftesyfer van Transnet-pensioenarisse wys dat ‘n skikking nou broodnodig is

Terwyl die klasaksie-geding van Transnet-pensioenarisse teen die staat jaar na jaar met regsprosesse uitgetrek word, leef ‘n groot aantal van die mense in haglike omstandighede en in die laaste 60 maande sedert die geding ‘n aanvang geneem het, reeds byna 21 000 pensioenarisse en hul gades gesterf teen 334 per maand.

Hierdie skokkende syfers het aan die lig gekom in antwoord op geskrewe parlementêre vrae van die VF Plus aan die minister van openbare ondernemings, mnr. Pravin Gordhan. (Vrae en antwoorde hierby aangeheg).

Die feit dat die pensioenarisse van alle rasse in sulke hoë getalle afsterf weens armlastigheid, stres, siekte en selfs selfmoord, wys op die morele verpligting wat op Transnet en die staat rus om onmiddellike verligting te bring.

Meer en meer pensioenarisse kontak die VF Plus feitlik daagliks en kla dat hulle self nie eens meer brood kan bekostig nie. Baie, wat weens lewenslange bydraes tot ‘n pensioenfonds ‘n gerieflike aftrede moes hê, leef as armlastiges op straat en talle het al selfmoord gepleeg weens hul omstandighede.

Hierdie skande moet nou tot ‘n einde gebring word en Transnet moet optree om ‘n billike skikking spoedig te finaliseer in die hangende groepsgeding.

Die VF Plus is wel dankbaar dat minister Gordhan nou persoonlik in die saak ingryp nadat adv. Alberts die dringendheid daarvan onder sy aandag gebring het.

Dit is belangrik dat die kabinet van Cyril Ramaphosa, anders as dié van sy voorganger, wys hy staan nie kil teenoor die pensioenarisse nie. Dit sal ook wys dat daar ‘n positiewe rigting oor menslikheid ingeslaan word in die land.

Een van die leiersfigure in die pensioenarisse se stryd, me. Bettie van der Merwe van Pretorria, het die voortslepende onregverdigheid goed raakgevat deur te sê dit is opvallend hoe gou VBS-bank finansiële verligting gekry het terwyl die pensioenarisse ongeag hul hoë ouderdom, moet voortsukkel.

Die VF Plus sal voortgaan om op ‘n dringende basis met die regering te skakel ten einde hierdie onmenslikheid tot ‘n einde te bring en om broodnodige verligting moontlik te maak.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.