Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gwede Mantashe en die ANC is verkeerd oor Zelda la Grange

Die ANC se absolute oorreaksie op dit wat Zelda la Grange in twiets oor pres. Jacob Zuma gesê het, is tekenend van ‘n party wat uit voeling is met die mense van Suid-Afrika en die toekoms wat hulle wil hê, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

La Grange het onder meer getwiet sy is ‘siek daarvan dat Zuma wit mense teiken’ en hy maak dit ‘duidelik’ dat wit mense nie welkom is in Suid-Afrika nie.

Adv. Alberts sê navorsing wys herhaaldelik dat die meeste van die land se inwoners bekommerd is oor die toekoms omdat armoede nie na behore aangespreek word nie. Hy sê Mantashe en die ANC haak vas in die verlede en die skep van ‘n fiktiewe geskiedenis om wittes by te kom, dra niks by tot die oplossing van die land se probleme nie.

“Gwede Mantashe se obsessie om van ‘wit oorheersing’ ontslae te raak, is ‘n absolute mistasting aangesien wittes lank nie meer die land regeer nie en die ANC in beheer is van hoe die toekoms sal lyk. Die vraag is of swart oorheersing dan die oplossing is volgens die ANC se argumente.

“Daar is twee kernprobleme in Suid-Afrika. Dit is ekonomiese ontmagtiging vir die meeste swart mense en politieke ontmagtiging vir al die minderhede.

“Die oplossing is dus duidelik dat die minderhede en die swart meerderheid hande moet vat om die ekonomiese probleme op te los en dit kan net gedoen word as minderhede toegelaat word om die mag op politieke vlak te deel.

“Daarom moet die debat gaan oor magsdeling en ekonomiese opheffing eerder as om mekaar met ‘n rassekwas te verf. Indien ons dit nie gaan regkry nie, is die toekoms ongelukkig een wat al hoe meer verdelend gaan wees. Soos die ANC se gewildheid afneem weens ‘n gebrek aan ekonomiese groei en sy onvermoë om armoede uit te wis, probeer hy toenemend op ‘n desperate wyse deur rassepolarisasie aan die mag vasklou,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.