Die VF Plus verwelkom die aankondiging van president Cyril Ramaphosa dat die drempel vir die ongelisensieerde opwekking van krag vir eie gebruik van 1 tot 100 mW verhoog gaan word. Dit is 'n belangrike stap in die rigting van volledig mededingende kragopwekking in Suid-Afrika – iets wat die VF Plus reeds jare reeds bepleit.
Dit is geen geheim nie dat kragtekorte die grootste hindernis vir ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika is.
Dit is ook lank reeds duidelik dat Eskom weens swak onderhoud in bestaande kragsentrales en rampspoedige bestuur in die konstruksie van nuwes, nie alleen die krisis kan oplos nie. Hierdie krisis is toegelaat om sy loop te neem tot die eindelike ineenstorting van die kragvoorsiener.
Die program vir onafhanklike kragverskaffers het reeds 'n belangrike bydrae gelewer, maar is deur regulatoriese rompslomp gekortwiek. Om die omvang van hierdie stap te verstaan, moet mens die volgende in ag neem:
Tans is die drempel vir ongelisensieerde opwekking van krag vir eie gebruik, 1 mW. Die minister vir minerale hulpbronne en energie, mnr. Gwede Mantashe, het onlangs aangekondig dat dit tot 10 mW opgestoot gaan word. Die feit dat dit nou na 100 mW opgeskuif is, toon die omvang van die krisis aan.
In hierdie geval is dit nie 'n wet wat verander moet word nie, maar net die verandering van 'n skedule wat in die Staatskoerant gepubliseer moet word. Dit verkort die tydsverloop tot die nuwe werklikheid kan intree.
Dit moet so gou as doenlik gebeur en mag nie deur onnodige rompslomp vertraag word nie.
Grootskaalse kragsentrales wat 'n hele land van krag voorsien vanaf die plekke waar fossielbrandstowwe beskikbaar is, is die ekonomiese model van die twintigste eeu.
Kort ná die draai van die millennium was dit reeds vir talle ontleders duidelik dat die toekoms in gedesentraliseerde, grootliks hernubare, kragopwekking lê. Die oorgang na die nuwe energiebedeling moet bestuur word en dit is jammer dat die Suid-Afrikaanse regering eerder reaktief as proaktief optree.
Hierdie nuwe energiebedeling sal ook lei tot groter selfstandigheid van streke in Suid-Afrika, met politieke gevolge wat dopgehou moet word. Die VF Plus sal aktief aan die herordening wat dit kan meebring, deelneem.