Die aanhef tot Suid-Afrika se Grondwet lui onder meer dat die land behoort aan almal wat daarin woon, verenig in hul verskeidenheid. Dit waarborg daarom elkeen wat in die land woon, se reg op ‘n kultuur-erfenis.
Dit beteken dat erkenning gegee moet word aan verskeidenheid van tale, kulture en herkomste van elke groep in die land; wit, bruin, Indiër en die onderskeie swart bevolkingsgroepe.
Slegs deur die erkenning en respektering van hierdie diversiteit kan mense verenig word soos die strewe daarna wat in die aanhef van die Grondwet uitgespreek word.
Erfenisdag erken hierdie diversiteit, maar die realiteit is dat die ANC nie uitvoering daaraan gee nie. Die ANC-regering misken die diversiteit van die mense van Suid-Afrika en daarom kan daar nie sprake wees van vereniging in verskeidenheid nie.
Dit manifesteer in beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), regstellende aksie (RA) wat die ekonomie aftakel en lei tot werkloosheid en talryke ander maatskaplike probleme wat eerder verdeel as verenig.
Die regering moet daadwerklik gehoor en uitvoering gee aan die Grondwet se strewe na vereniging in verskeidenheid.
Die Afrikaner het sedert die volksplanting gewys dat hy ‘n bouer is. Ook hier meld die Grondwet dat daar respek moet wees vir diegene wat hul beywer het om die land “op te bou en te ontwikkel”.
Suid-Afrika is inderdaad opgebou tot ‘n kernmoondheid in die wêreld en ‘n gesogte beleggingsland. Die ANC het hierdie opbouproses wat oor eeue gestrek het, in minder as drie dekades tot só ‘n mate vernietig dat beleggers nou hul rug op die land draai.
Dit is wel ook belangrik dat mense self hul erfenis koester en bewaar. Erfenis is ‘n onlosmaaklike deel van enige volk se voortbestaan. Wanneer ‘n volk se erfenis vernietig word, word die volk ook vernietig.
Die VF Plus doen daarom ‘n beroep op die Afrikaner en ander volke in die land om met trots hul kultuur te beoefen en erkenning en waardering te hê vir dié van ander.
Die wenresep in Suid-Afrika is daarom om almal in die land se diversiteit te erken. Dit sal mense verenig tot voordeel en vooruitgang van die land.