Die VF Plus het die Vrystaatse wetgewer se petisiekomitee en sakelui ingelig oor die knaende waterkrisis wat inwoners van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Welkom, Virginia, Hennenman, Ventersburg en Allanridge) ervaar.
Dit volg op die griefskrif wat die VF Plus in Julie vanjaar namens inwoners van Matjhabeng oor die voortslepende waterkrisis by die wetgewer ingedien het. Nagenoeg 1 000 inwoners het dit onderteken.
Dit is bykomend tot die VF Plus se klagte by die Menseregtekommissie MRK), die openbare beskermer (OB) asook strafregtelike klagte teen die burgemeester, Nkosinjani Speelman, om die ANC tot verantwoording te roep vir sy wanbestuur van die munisipaliteit.
Matjhabeng verloor volgens die ouditeur-generaal (OG) soveel as 76% se water weens lekkasies en onwettige aansluitings.
Luidens 'n vorige finansiële jaar se OG-verslag, het dié munisipaliteit meer as R150 miljoen se water verloor weens lekkasies, terwyl slegs 20% van die betrokke voorwaardelike toelaag vir water-infrastruktuur bestee is.
Inwoners betaal uiteindelik ‘n duur prys vir die ANC se jarelange wanbestuur wat swak waterinfrastruktuur en verval tot gevolg het.
Die VF Plus het in die vergadering met die petisiekomitee geëis dat owerhede nou dringend oplossings moet implementeer. Voorwaardelike toelaes wat vir waterinfrastruktuur bedoel is, moet daarvoor aangewend word.
Die wetgewer gaan ‘n span saamstel wat verder ondersoek hieroor gaan instel.
Die VF Plus sal seker maak dat die ANC tot verantwoording geroep word vir sy wanbestuur en dat maatreëls in plek gestel word om die raad te dwing om sy grondwetlike mandaat na te kom.
Navrae: 082 886 9945