Die SANW-generaal wat lede van die weermag en twee ratels gemobiliseer het om 32 soldate wat deur die polisie in hegtenis geneem is te bevry, moet onmiddellik geskors word, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie en verdediging.
Luidens mediaberigte vandag was die generaal onder die invloed van drank toe hy die soldate, onder wie ‘n kolonel en ander offisiere, uit polisie-aanhouding ontset het nadat hulle in ‘n sjebien in Oudtshoorn in hegtenis geneem is.
Dr. Groenewald sê die generaal moet dadelik aangekla word van dwarsboming van die gereg, die misbruik van staatseiendom en die misbruik van sy magsposisie. Weens die erns van die klagte moet ook oorweeg word om hom sonder meer in hegtenis te neem.
“Hierdie tipe optrede getuig van uiters swak dissipline, veral van ‘n senior offisier wat dink hy is verhewe bo die reg.
“Dit wek ook kommer aangesien ‘n magstryd kan ontstaan tussen die polisie en die weermag en dit is duidelik dat hierdie generaal nie bevoeg is om in die weermag te wees nie, en nog minder ‘n senior offisier.
“Die VF Plus sal beslis vrae in die parlement vra en verwag van die minister van verdediging om onmiddellik toe te tree en genoemde stappe te laat neem teen die generaal.
“Stappe moet ook geneem word teen die 32 soldate wat in die voorval betrokke was en die polisie se ondersoek teen hulle moet voortgaan,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403