Die VF Plus se volgehoue druk op die Ekurhuleni-metroraad (Brakpan, Benoni, Boksburg, Springs, Kempton Park, Nigel, Alberton, Germiston, Edenvale/Bedfordview, Midstream en informele nedersettings) om die finansiële situasie van inwoners in ag te neem, reflekteer in die 2020/21-begroting met geen aangepaste verhoging op eiendomsbelasting en vullisverwydering nie.
Elektrisiteit tariewe word met 6.3% verhoog instede van die voorgestelde 6.9%.
Die metroraad se verskoning vir sy finansiële verknorsing, wat hy voor die deur van die staat van inperking plaas, is ongegrond omdat die metroraad reeds voor die uitbreek van die Covid-19-pandemie swak finansiële besluite geneem en onder finansiële druk verkeer het.
Ondeurdagte besluite deur die raad was onreëlmatige uitgawes van miljoene wat aan die Brakpan-busmaatskappy en die Ekurhuleni-behuisingmaatskappy bestee is. Die geld kon eerder aangewend gewees het om die lewensomstandighede van inwoners te verbeter.
Die toenemende kragonderbrekings wat Ekurhuleni ondervind kan deels toegeskryf word aan die styging in elektrisiteitsverbruik, maar die probleem kon voorheen aangespreek gewees het indien vorige begrotings voorsiening gemaak het vir die opgradering van elektrisiteitnetwerke en behoorlike infrastruktuur-instandhouding. Dit geld ook vir water-infrastruktuur.
Werkskepping is belangrik en daarom moet die burgermeester, Mzwandile Masina, eerder sy aandag hierop vestig as om radikale uitsprake te lewer. Die VF Plus stel voor dat Masina wit besigheidseienaars ondersteun omdat hulle ook ‘n bydra lewer om die ekonomie te stimuleer en werksgeleenthede te skep.
Die VF Plus kan dus nie die begroting steun nie. Belastingbetalers kan nie gestraf word vir die wanbestuur van die metroraad nie.
Die VF Plus sal volgehoue druk op die Ekurhuleni-metroraad plaas tot voordeel van alle inwoners.
• Die VF Plus het in sy repliek op die begroting medelye betuig aan slagoffers van plaasaanvalle asook slagoffers van geweldsmisdade teen vroue en kinders.
Die syfers het gedurende die inperking gestyg. Die burgemeesterskomiteelid van finansies, dr. Nkosindiphile Xhakaza, het die VF Plus gesteun en die party uitgenooi om sulke gevalle onder die aandag van die metroraad te bring.
Navrae: 072 217 1951