Plaasaanvalle neem steeds toe met verhoogde intensiteit soos die onlangse voorval in Vryheid in KwaZulu-Natal waar tien mense met AK 47’s ‘n aanval uitgevoer het, en in die belang van landelike beveiliging moet statistiek oor die soort misdaad nou bekend gemaak word, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.
Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat van die polisie gesê daar is ‘n aansienlike toename in plaasaanvalle en moorde waar swart en wit vermoor word.
Hy het ‘n beroep op die minister en die waarnemende kommissaris van polisie gedoen om daadwerklik aandag te gee aan plaasaanvalle en om statistiek daaroor, wat wel beskikbaar is, bekend te maak om sodoende raaiwerk en gissings uit te skakel.
Oor geweldsmisdaad het dr. Groenewald gesê die afgelope anderhalfjaar was ‘n slegte jaar vir die polisie. Statistiek vir dié tyd wys daar was ‘n toename in geweldsmisdade, en veral huisbrake neem jaar na jaar toe.
“ ‘n Huis is juis die plek waar ‘n mens wil veilig voel en ontspan na ‘n dag se harde werk. Dit wys dat daar nie streng genoeg opgetree word teen misdadigers nie. Geweldsmisdaad neem toe en polisieoptrede om dit te bekamp sal verskerp moet word.
“In dié tyd het die land ook die skorsing van die vorige polisiekommissaris, Rhiya Phiyega, gesien omdat sy nie eerlik was voor die Farlam-kommissie oor Marikana nie. Daaroor is besluit sy moet geskors word.
“Parallel daarmee het die Grondwethof bevind dat die minister, Nathi Nhleko, se verslag oor Nkandla, die publiek mislei het. Dit is in so ‘n ernstige lig beskou dat die hof bevind het die minister moet berispe word daaroor. Is hy wel berispe?
“Ek het ten minste verwag dat die minister vandag in hierdie debat jammer sou sê vir die mense van Suid-Afrika oor sy verslag.
“Die VF Plus verwelkom die polisie se omkeerstrategie van “Back to Basics” en ons wil die waarnemende polisiekommissaris, genl. JK Phahlane, sterkte toewens met sy span. Daar is reeds merkbare verbeterings, en ons hoop dit sal nog beter gaan,” het dr. Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403