Die parlementêre portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) se kommer oor die algehele stand van munisipaliteite in Gauteng, kom as geen verrassing vir die VF Plus nie.
Die portefeuljekomitee het veral sy kommer uitgespreek oor die groot aantal ongevulde vakatures vir senior personeel, die tekort aan tegniese personeel, grootskaalse korrupsie en wanadministrasie.
Die VF Plus in Gauteng het telkens in die verlede die Gautengse LUR vir Cogta , Lebogang Maile, versoek om daadwerklik te fokus op plaaslike munisipaliteite wat die swakste presteer soos Emfuleni, Randwest, Mogale City en Merafong en die Wes-Rand-distriksmunisipaliteit, en om ‘n omkeerplan in werking te stel. Dit het nooit gebeur nie en die munisipaliteite se hoë water- en kragverliese, asook ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende uitgawes, verhoog met elke finansiële jaar.
In Johannesburg het die onreëlmatige uitgawes vanaf R1,2 miljard in die 2014-’15-boekjaar tot R3,07 miljard in die 2018-’19-boekjaar toegeneem.
Die Wes-Rand-distriksmunisipaliteit se onregmatige uitgawes is R149,7 miljoen in die 2018-’19-boekjaar. R92.09 miljoen van die bedrag is nog nie ondersoek nie.
Mogale City se ongemagtigde uitgawes vir die 2019-’20-boekjaar beloop R166,3 miljoen.
Vyf van die elf munisipaliteite in Gauteng se komitees vir openbare rekeninge het nie die 2019-‘20-jaarplan goedgekeur nie. Dit beklemtoon die wanfunksionering van dié komitees.
Die groot aantal vakatures vir veral senior bestuursposte asook steundiensposte is onrusbarend.
Vier munisipale bestuurder-posisies uit elf munisipaliteite is vakant en in Emfuleni is die omset in munisipale bestuurders opvallend.
Dis nog altyd die VF Plus se standpunt dat munisipaliteite poste vul met die beste kandidate om sodoende wanfunksionele munisipaliteite reg te ruk tot voordeel van alle hul inwoners. Dis dringend noodsaaklik om weg te doen met regstellende aksie (RA) en kaderontplooiing.
Die VF Plus sal voortgaan om munisipaliteite verantwoordbaar te hou vir wanadministrasie en swak dienslewering.
Navrae: 071 604 9498


