Daar is min lig aan die einde van die tonnel,” het Wouter Wessels VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, oor die geweldige krisis ten opsigte van uitstaande skuld aan Eskom gesê.
Alvorens enige afbetalingsmaatreëls of alternatiewe oorweeg word sal munisipaliteite eers die miljoene rand se elektrisiteitsverliese weens kabeldiefstal en onwettige koppelings moet aanspreek.
Eskom, die departement van samewerkende regering (COGTA) en sekere munisipaliteite het vandag voor die openbare rekeninge komitee van die Vrystaatse Wetgewer verskyn oor die munisipaliteite in die Vrystaat se reuse Eskom-skuld.
Verskeie munisipaliteite, soos Nketoana en Ngwathe kon reeds nie betalingsooreenkomste nakom nie. Die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit, wat Kroonstad, Steynsrus, Viljoenskroon en Vierfontein insluit het ook aangedui dat hul nie geld het om die ooreengekome bedrag van R18,9 miljoen te betaal nie.
Eskom het met sekere voorstelle vorendag gekom wat deur ‘n nasionale goedkeuringsproses moet gaan voor dit geïmplimenteer kan word. Wessels het gesê hierdie voorstelle word verwelkom, alhoewel dit slegs werkbaar sal wees ten opsigte van munisipaliteite se huidige en toekomstige skuld.
Hy het gesê dat munisipaliteite en Eskom sal moet aanvaar dat historiese skuld wat miljarde rand beloop waarskynlik nooit ingevorder sal kan word nie en afgeskryf sal moet word. Munisipaliteite sal nie eers hul historiese skuld kan delg met die totale billike aandeel wat van die provinsiale regering ontvang word nie, aangesien daar dan geen bedryfskapitaal vir dienslewering sal wees nie.
Dit is COGTA se mening dat besighede verantwoordelik is vir munisipaliteite se hoë uitstaande skuld aan Eskom.
Wessels het dit as onwaar afgemaak aangesien die grootste bydrae tot die uitstaande skuld die munisipaliteite self se onvermoë om debiteure in te vorder is, wanbetalende verbruikers, en historiese verbruikerskuld wat miljoene rand beloop. Elektrisiteitsverliese weens onwettige koppelings en kabeldiefstal speel ook ‘n aansienlike rol. Daar is ook gevalle soos die wat voor die komitee gedien het van munisipaliteite wat verbruikers se betalings ontvang, maar vir maande en selfs jare niks aan Eskom oorbetaal nie.
Die hoogste bedrag verskuldig aan Eskom in Suid-Afrika is R1,8 miljard deur Maluti-a-Phofung (Witsieshoek, Kestell, Phuthaditjhaba en Harrismith), gevolg deur Matjhabeng (Welkom, Ventersburg, Allanridge, Virginia, Odendaalsrus en Hennenman) met R1,2 miljard. Hierdie twee munisipaliteite het nie opgedaag vir hulle verskyning voor die komitee nie.
Wessels het gesê dit is betreurenswaardig dat slegs drie van die agt munisipaliteite wat genooi is om voor die komitee te verskyn opgedaag het en dat skuld vir die krisis steeds verskuif word op alles van besighede tot die droogte.
Dit is duidelik dat Eskom bereid is om sekere toegewings te maak ten einde ‘n werkbare oplossing vir die Vrystaat se kragkrisis te bewerkstelling, maar geen maatreëls wat ingestel word sal werk as bestuur op munisipale vlak nie verantwoordelikheid neem vir die probleem en ‘n daadwerklike poging aanwend om dit aan te spreek nie.
Kontakbesonderhede: 082 674 6670