Eskom se reddingsboei wat hy na die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit gooi om sy agterstallige skuld van miljarde te betaal, is prysenswaardig, maar die VF Plus twyfel of dié munisipaliteit by enige van die afbetalingsooreenkomste sal hou.
Eskom het vandeesweek aangedui dat hy ʼn afbetalingsooreenkoms met Emfuleni wil aangaan om sy kragskuld van R1,2 miljard te delg.
Emfuleni het ook by die nasionale tesourie vir skuldverligting aansoek gedoen om sy historiese kragskuld te vereffen.
Die ooreenkoms met Eskom sluit in dat die munisipaliteit drie keer per jaar ʼn betaling van tussen R50 miljoen tot R145 miljoen moet maak.
Indien Emfuleni se aansoek by die nasionale tesourie om skuldverligting slaag, moet hy stiptelik oor twaalf maande ʼn ooreengekomde bedrag aan Eskom betaal waarna ʼn derde van sy skuld afgeskryf sal word.
Die aansoek is net van toepassing op die munisipaliteit se historiese Eskom-skuld en Emfuleni is steeds ten volle verantwoordelik vir sy maandelikse skuld aan Eskom.
Eskom en Randwater het reeds op Emfuleni se bankrekeninge beslag gelê en lig dit net een keer ʼn maand om die munisipaliteit toe te laat om salarisse te kan betaal.
Aan die einde van Mei is slegs R120 miljoen daarvoor vrygestel.
Geen geld is aan pensioenfondse, Sars of vir behuisingsvoordele oorbetaal nie. Hiervoor is daar nog sowat R170 miljoen nodig.
Emfuleni hou selde indien ooit by afbetalingsooreenkomste aan grootmaat-diensverskaffers en die VF Plus kan nie sien hoe hy dit nou gaan doen nie.
Die ANC het Emfuleni so wanbestuur en besteel, dat die enigste hoop vir inwoners is om van die ANC ontslae te raak.