Dit is bloot idealisties om nasiebou in Suid-Afrika te bevorder op enige ander wyse as om ook die diversiteit van die land se mense te erken en te respekteer.
Die droom om die samelewing te transformeer en te verenig deur 'n gedeelde verbintenis tot grondwetlike waardes wat nasiebou bevorder, sosiale samehorigheid versterk en die lewensgehalte vir alle Suid-Afrikaners verbeter, het reeds klaaglik misluk onder die ANC-regering.
Wat grondwetlike waardes aanbetref, vervat Artikel 1 van die Grondwet die volgende voorskrifte ter bevordering van nasiebou:
• Menswaardigheid, die strewe na gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede vir almal.
• Nie-rassigheid, nie-seksisme en aanspreeklikheid.
• Die oppergesag van die Grondwet en die reg.
Hierdie waardes is prysenswaardig, maar die realiteit skets ‘n ander prentjie:
Wanneer die hoofsweep van die EFF in die openbaar sê hy praat nie met witmense nie – wat sê dit oor nie-rassigheid?
Wanneer die ANC se beleid van Regstellende Aksie (RA) aan 'n jong, vrygebore Suid-Afrikaner van 'n minderheidsgemeenskap sê dat hy of sy weens velkleur nie aangestel sal word nie – wat sê dit van menswaardigheid?
Wanneer misdadigers en korrupte staatsamptenare en begunstigdes van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) die fiskus vir 25 jaar plunder sonder enige gevolge – wat sê dit oor aanspreeklikheid?
Wanneer die staat beoog om dit 'wettig' te maak om die eiendom van sy burgers sonder vergoeding te onteien – wat sê dit van die oppergesag van die reg?
Die regering kan kennis neem van die ANC se Vryheidsmanifes waarin staan die land behoort aan al die mense wat in hom woon en geen regering kan op ware legitimiteit aanspraak maak indien dit nie gegrond is in die behoeftes van al die mense nie.
In skrille kontras hierteen het die ANC die uitsluiting en verdrukking van minderhede in die land geïnstitusionaliseer.
ANC-slagspreuke soos 'eenheid in diversiteit' is leeg en sal niks bereik nie. Ware nasiebou kan net bevorder word deur diversiteit te erken, te respekteer en te akkommodeer. Indien dit gedoen word, sal die positiewe energie wat in Suid-Afrika vaardig raak, almal verbaas.
Kontaknommer: 083 626 1497