fbpx
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni-metro moet ingryp by klinieke om algehele verval te voorkom

Die haglike toestand waarin die meeste van die Ekurhuleni-metro se 77 klinieke verkeer, kan verder versleg indien die metro se departement vir gesondheid en sosiale ontwikkeling nie dringend ingryp nie.

Die agteruitgang word vererger weens die departement se onderbefondsing.

Luidens ʼn oorsigverslag van die departement besoek tussen 11 000 en 12 000 mense per maand ʼn kliniek in hul spesifieke gebied.

By al die klinieke is daar ʼn ernstige personeeltekort. Tans is daar 20 hoof verpleegkundiges en 169 verpleegpersoneel en 342 vakante poste.

Probleme wat die klinieke algemeen ervaar, is onder meer waterlekkasies en -tekorte, apteke sonder lugversorging om medikasie koud te hou, geen kragopwekkers gedurende kragonderbrekings nie, onvoldoende sitplek en skuiling vir pasiënte teen die elemente, stukkende toilette en deure en telefone wat buite werking is.

Personeel moet van hul privaat selfone gebruik maak om dokters of hospitale te skakel.

Daar word aanbeveel dat ʼn praktiese plan met behoorlike tydlyne opgestel word vir die opknapping van klinieke. ʼn Vorderingsverslag moet op 1 Junie aan die raad voorgelê word.

Die VF Plus het hom tydens die oorsigbesoeke sterk uitgespreek teen die slegte toestande wat heers by klinieke en dit beskryf as ʼn voorsmaak van hoe openbare gesondheidsorg gaan lyk onder die nasionale gesondheidsversekering (NGV).

Indien daar nie meer fondse bewillig word vir die instandhouding van klinieke nie, sal van die klinieke noodgedwonge gesluit moet word.

Intussen word pasiënte van basiese mediese sorg ontneem weens lang wagtye en ʼn tekort aan personeel en medikasie.

Die VF Plus sal in die jaar weer oorsigbesoeke aan klinieke bring om homself te vergewis van die vordering wat gemaak word met die opknappingswerk.

Die party sal ook druk op die metro plaas om die bekwame personeel aan te stel in die ongevulde poste om sodoende die druk op bestaande personeel te verlig.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.