Die dreigemente teen Sanral moet die rooi ligte laat flikker vir die ANC-regering oor die erns van burgerlike weerstandigheid teenoor die e–tolstelsel, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
‘n Bomdreigement het veroorsaak dat die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) in Midrand Sondag vir ‘n derde keer ontruim is.
“Omdat dit duidelik is dat die publiek moedeloos en vuisvoos is teen wat hulle beskou as onbillike optrede van die staat, het die VF Plus ‘n kanaal in die vorm van ‘n landwye petisie geskep waarlangs teenstanders van die stelsel op ‘n wettige wyse hul misnoeë te kenne kan gee, raad kan kry en sodoende teen die stelsel kan veg.
“Die Afrikaanse webwerf is: www.tolhekpetisie.org.za en die Engelse weergawe is www.tollgatepetition.org.za.
“Die probleme wat mense ervaar is talryk. Selfs motoriste wat nooit eens op e-tolpaaie gery het nie, ervaar probleme. Die VF Plus is bereid om mense te help om hul probleme by die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) aan te meld.
“Die NVK het wye magte en kan toesien dat Sanral voldoen aan die Wet op Verbruikersbeskerming aangesien talle van die probleme wat tans ervaar word, 'n blatante verbreking van hierdie wet is, asook van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies en die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde.
“Ons nooi die publiek om hierdie wettige kanaal te volg om hul verset teen e-tol te wys. Die NVK is by magte om toe te sien dat al die probleme reggestel word. Terwyl ‘n klag by die NVK hangende is, mag Sanral geen regstappe of enige ander stappe teen ‘n persoon neem nie. Sanral hoef dus nie betaal te word terwyl ‘n saak hangende is nie.
“Hierbenewens gaan die VF Plus steeds voort met sy hofsaak teen die regering oor die grondwetlikheid van die E-Tolwet ten einde dit ongrondwetlik verklaar te kry. Indien die VF Plus die saak wen, sal alle reeds betaalde gelde terugbetaalbaar wees,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403