Johan Powell, stadsraadslid van die Vryheidsfront Plus vir die Mangaung-metro, het die blaam vir die waterprobleme van die metro, asook vir die hele Vrystaat en Suid-Afrika vierkantig op die skouers van die ANC-regering geplaas.
Die Vryheidsfront Plus het al dikwels gesê dat finansies nie die probleem is nie, maar dat die probleem voor die deur van onbevoegde amptenare gelê moet word. Jaarliks word miljoene rande onderspandeer van die toekennings (grants) wat die metro van die nasionale regering ontvang vir die verbetering en instandhouding van hulle infrastruktuur. Daardie ongebruikte fondse kan nie na die volgende jaar oorgeplaas word nie en moet aan Tesourie terugbetaal word. Dit is dus duidelik dat die probleem nie finansies is nie, maar beplanning en bestuur.
Die Vryheidsfront Plus se standpunt is onomwonde dat regstellende aksie omgekeerde apartheid is en dat dit lankal afgeskaf moes word omdat die metro verby hulle mikpunt getransformeer is. Die Vryheidsfront Plus se standpunt is dat slegs meriete moet geld wanneer amptenare aangestel word. Die Ouditeur-Generaal het bevind dat meer as 80% van die munisipale amptenare nie bevoeg is om die werk te doen waarvoor hulle aangestel is nie. Alle verskonings wat die ANC-beheerde stadsraad aanvoer vir die waterprobleme, kom daarop neer dat die amptenare nie bevoeg is om hulle werk behoorlik te doen nie. Die protesoptogte oor die land heen oor swak dienslewering is onomwonde die bewys dat die ANC klaaglik misluk het die afgelope 20 jaar om die land doeltreffend te regeer.
Die pompe by veral Maselspoort is ‘n sprekende voorbeeld van die amptenare se onbevoegdheid. Die pompe word nie behoorlik in stand gehou nie en daar word gewag totdat ‘n krisis ontstaan voordat die nodige aandag daaraan geskenk word. Een van die pompe is langer as ‘n jaar gelede gesteel en nog steeds nie vervang nie. Die verouderde waterpypleidings vanaf die verskillende damme is ook ‘n groot bron van kommer. Die hele situasie is so kritiek dat dit enige dag totaal kan ingee. Dit gaan al so erg dat onder andere Sentraal Hoërskool se skool en koshuis nie kan funksioneer nie omdat daar nie water is nie.
Die Vryheidsfront Plus sê dat die toedrag van sake totaal onaanvaarbaar is en dat inwoners se grondwetlike regte aangetas word. Die party het ‘n klag by die Verbruikerskommissie ingedien sodat meer druk op die regering geplaas kan word om hulle verantwoordelikheid teenoor alle landsburgers na te kom. Die party het ook ‘n dringende vergadering met die LUR vir Plaaslike Regering belê vir 28 Januarie 2013 om oplossings vir die benarde posisie te vind waarin inwoners van die stad hulle bevind.
Die party reël ook ‘n protesaksie môreoggend, Dinsdagoggend, 28 Januarie om 07:30 by die munisipale kantore.
Die Vryheidsfront Plus doen weereens ‘n ernstige beroep op die ANC dat van onbevoegde amptenare ontslae geraak moet word en dat bevoegde amptenare, waarvan ontslae geraak is, weer aangestel moet word.
JOHAN POWELL
Kontaknommer: 083 264 2741