Die VF Plus het aanduidings gekry dat die Gautengse onderwysdepartement begin voorberei om geslagsneutrale toilette in skole te skep wat vroueregte sal ondermyn.
Die VF Plus het bewus geword van 'n vraelys wat in verskeie skole in die Suide van Gauteng versprei word wat leerders vra om aan te dui of hulle hulself as een van die LGTBQ-groepe identifiseer.
Die vraelys maak ook voorsiening vir die afteken van die dokument deur 'n ouer of voog.
Wat uiters kommerwekkend is, is dat die vraelys ook deur 'n leerder wat twaalf jaar of ouer is, afgeteken kan word, selfs sonder 'n ouer of voog se medewete.
Die dokument se bewoording sê spesifiek: "Signature: Child, 12yrs & older".
Hierdie reëling is natuurlik totaal onwettig omdat 'n kind onder agtien nie sonder die bystand van 'n ouer of voog enige ooreenkoms mag sluit of persoonlike inligting met ander mag deel nie, insluitende die onderwysdepartement.
Verder beskou die VF Plus die vraelys as 'n stap ter voorbereiding van verskeie veranderinge by skole in Gauteng.
Dit sluit in die skep van geslagsneutrale toilette, die toelating van seuns wat as meisies identifiseer in meisietoilette en -sport en die streng bestuur van die gebruik van nuwe name op grond van veranderde geslagsidentifikasie.
Indien hierdie reëls in werking gestel word sal dit vroueregte fundamenteel ondermyn, onder meer omdat persone wat wettig as mans geklassifiseer is, in jong vroue se privaat spasies kan inbeweeg.
Op die sportveld sal dit ook tot ongelyke mededinging en moontlike beserings ly.
Die VF Plus gaan by die Gautengse departement van onderwys navraag doen op watter gronde die vraelys uitgestuur is en wat daarmee beoog word.
Die party wil ook weet waarom kinders so jonk as twaalf self die vraelys kan afteken.
Die VF Plus verstaan dat die vraelys intussen deur die departement teruggetrek is, maar die vrae rakende die redes vir die verspreiding daarvoor bly relevant.
Die nasionale onderwysdepartement het ook ondersoek gedoen en aanbevelings gemaak oor die hantering van LGBTQ-groepe in skole.
Aanvanklik wou dit lyk asof die aanbevelings wel beleid sou wees, maar ná druk van die VF Plus se dr. Wynand Boshoff het die departement erken dat die aanbevelings bloot riglyne is wat nie afdwingbaar is nie.
Die VF Plus glo in die versigtige afweeg van belange van verskillende soorte mense, maar dat die uitsondering op die reël rakende geslagsidentifikasie nie die norm kan word nie.
Indien daar nie teen die LGBTQ-groepe gediskrimineer mag word nie, mag daar ook nie gediskrimineer word teen die meerderheid wat hulle as mans of vroue en in die geval van minderjariges, seuns of meisies, identifiseer nie.
Die ANC het tot dusver op nasionale en provinsiale vlak roekeloos gehandel met hierdie sensitiewe kwessie.
Dit dui opnuut daarop dat die ANC nie kan vertrou word om skole te bestuur soos wat hy beoog in terme van die Bela-wetsontwerp nie.
Die ANC-regering tree mala fide op wanneer dit by die regte van kinders en vroue kom en daarom moet die ouer-gemeenskap alles in sy vermoë doen om die gesag by skole te behou.
Die VF Plus staan saam met die ouer-gemeenskappe in die stryd om kinders te beskerm.