fbpx
Vryheidsfront Plus

Belastinggeld word misbruik om politieke elite in Mpumalanga in weelde te laat leef

Belastingbetalers moet ‘n bykomende R79 miljoen opdok vir konstruksie, polisiewagte en buitensporige maandelikse geriewetoelae vir die luukse personeeldorp buite Mbombela/Nelspruit waar hooggeplaastes van die provinsiale regering voortaan sal bly.

Die totale konstruksiebegroting van hierdie projek, waarvan die aanvanklike doel klaarblyklik was om koste vir die regering te spaar, beloop nou al meer as R600 miljoen.

Die spertyd vir die voltooiing van konstruksie was aanvanklik 2018, waarna dit aangeskuif is tot 2020 en toe 2022. Dit is nou verder aangepas tot Junie 2023.

Dit is ná afloop van gemeenskapsopstande wat konstruksiewerk gekniehalter het en konstruksiekoste die hoogte laat inskiet het.

Opstande van die Matsafeni Trust-gemeenskap het daartoe gelei dat die departement van openbare werke versoek het dat die konstruksieterrein 24 uur per dag deur polisielede bewaak word.

Dit het bykomende druk op die polisie se hulpbronne geplaas waarvan daar reeds ’n tekort in die provinsiale polisiemag is.

Verdere kostes vir die belastingbetaler is die water- en elektrisiteitstoelaag van R5 000 wat elke lid maandeliks sal ontvang wanneer hulle die eenhede beset. Lede sal ook nie huur betaal nie.

In geskrewe antwoorde op die VF Plus se vrae, het mnr. Mandla Ndlovu, LUR van die departement van openbare werke geantwoord dat 31 luukse huise, ’n groot ontspanningsarea met ’n swembad en gimnasium, kantoor- en sekuriteitsgeboue en ’n helikopterblad beplan word.

Die totale vloeroppervlakte van die premier se huis is 980 vierkante meter, die speaker se huis is 913 vierkante meter en ’n gastehuis vir besoekende staatsamptenare is 882 vierkante meter.

Die 12 vierslaapkamerhuise vir LUR'e sal elk rondom 596 vierkante meter groot wees, en die 16 drieslaapkamerhuise vir die lede van die provinsiale wetgewer sal elk sowat 376 vierkante meter wees.

Die aanvanklike goedgekeurde omvang van die personeeldorp was aanvanklik vir 15 000 vierkante meter. Dit is aangepas tot 20 000 vierkantemeter.

Of hierdie nuwe omvang reeds goedgekeur is, is onduidelik uit die departement se antwoorde.

Dit is onregverdig dat die belastingbetaler miljoene moet betaal om aan hierdie mense ‘n onnodig luukse leefstyl te gee terwyl miljoene mense werkloos en sonder kos is.

Die VF Plus sal verdere vrae indien om die publiek in te lig oor die vermorsing van belastinggeld.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.