Die Vryheidsfront Plus veroordeel die huidige gewelddadige betogings in Mpumalanga ten sterkste. Die provinsie het die afgelope twee weke gewelddadige betogings beleef wat die ekonomie en privaatsektor groot finansiële verliese laat ly het.
Onwettige protesaksies het die regering se gebrek aan dienslewering en die gemeenskap se weerstand daarteen, opnuut onder die kollig geplaas.
Plaaslike gemeenskappe gebruik die provinsiale ekonomie as losprys om te verseker hul pleidooie word gehoor, en plaas hulself voor in die ry vir die verdeling van befondsing vir die nuwe finansiële boekjaar wat op 1 April 2020 afskop.
Dit maak nie saak hoe swak kommunikasie tussen die plaaslike regering en gemeenskappe is nie, betogers kan nie toegelaat word om dorpe soos Grootvlei, Balfour, Barberton en ekonomiese verbindingsroetes tussen Mpumalanga en Limpopo (R40 Bushbuckridge) gyselaar te hou vir kwessies wat nie die inwoners en die belastingbetalers raak nie.
Die jongste protesaksies het die vorige onluste in intensiteit oortref omdat betogers desperaat en radeloos geword het. Massa-optredes het die styl van dié voor 1994 aangeneem. Inwoners wat nie deelneem nie, word geïntimideer en gedreig. Daar word klip gegooi en op die publiek geskiet.
Die ANC-regering moet wet en orde toepas en wetsgehoorsame inwoners beskerm. Owerhede moet voortdurend met gemeenskappe kommunikeer deur ANC-wyksraadslede en ander kanale wat dit wel moontlik maak.
Die vernietiging van staats- en private eiendom moet gestop word en Mpumalanga moet omskep word in 'n bestemming waarop almal trots kan wees en wat beleggers lok.
Kontaknommer: 084 652 9164


