Debat oor Werkersdag in die parlement: Die viering van 100 jaar van Nelson Mandela – herstel van arbeiders se reg tot waardigheid deur ‘n nasionale minimumloon
Die idee van ‘n minimumloon klink dalk na ‘n edel poging om arm mense op te hef, maar dit hou nie tred met die realiteit nie.
Omvattende navorsing regoor die wêreld is al gedoen oor minimumlone, selfs deur die Wêreldbank, en telkens word bevind dit is minder skadelik en meer uitvoerbaar om die ekonomie te laat groei wat sal lei tot verhoogde werkskepping wat tot verhoogde lone lei.
Die voorvereiste vir ekonomiese groei is in wese om ekonomiese vryheid te verhoog. Hoe groter die markvryheid, hoe kleiner word ongelykheid.
Die uitwerking van die nasionale minimumloon gaan tragiese gevolge hê en sal nie tot die volhoubare opheffing van werkers lei nie. In werklikheid sal die volgende eerder plaasvind:
• Dit sal lei tot werksverliese in die sektore waar die armstes in diens is, soos by myne en plase. Werkers sal toenemend vervang word met masjiene.
• Dit sal werkloses heeltemal uit die arbeidsmark sluit, aangesien daar min nuwe intreevlak-geleenthede geskep sal word.
• Die positiewe uitwerking van die hoër inkomste van werkers sal geneutraliseer word deur hoër verbruikerspryse aangesien ondernemings dié bykomende uitgawe van verbruikers sal verhaal.
• Sommige ondernemings sal bloot skuif na vriendeliker sake-omgewings. Die nasionale minimumloon tesame met onteiening sonder vergoeding sal lei tot verdere desinvestering.
In teenstelling hiermee sal ‘n vryemark met laer belastingkoerse meer beleggings na die land lok. Maatskappye sal meer belê en sodoende meer werk skep. Die gerekende ekonoom Mike Schussler sê egter Suid-Afrika het reeds van die beleggingsradar verdwyn.
Die netto buitelandse investering in 2017 was minus 30,9%. Dit beteken Suid-Afrika belê meer oorsee as wat die buiteland plaaslik belê. Die Suid-Afrikaanse skip lek beleggingskapitaal en dit vernietig werk en hoër salarisse. Geen minimumloon kan die probleem herstel nie.
Die 25 grootste ontwikkelende lande bereik 'n gemiddelde netto buitelandse direkte belegging van 30%. Indien Suid-Afrika dit kan bereik, kan dit tot 3 miljoen nuwe werkgeleenthede beteken. Dit kan die werkloosheidsyfer verlaag en die ongelykheid aansienlik verminder.
Salarisse sal op alle vlakke groei terwyl die middelklas uitbrei. Dit is duidelik dat die regering op die verkeerde plekke soek na werklike oplossings. Ware oplossings kan nie gevind word in goeie bedoelings wat nie in die regte wêreld kan werk nie.
Die formule vir welvaart is welbekend. Die instel van ‘n minimumloon in ‘n omgewing waar desinvestering plaasvind is ongelukkig ‘n radikale afwyking van daardie pad.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216