Dewetsdorp in die Mangaung-metro-munisipaliteit is sedert Vrydag, 13 November, sonder lopende water. Watertoevoer in dié dorp is wisselvallig en inwoners ontvang sommige dae slegs twee ure per dag water, indien daar enige water beskikbaar is. Dié voortslepende waterprobleem teister betalende inwoners al vir langer as drie jaar.
Die VF Plus neem kennis van die gerugte dat munisipale werkers watertoevoer met opset saboteer as gevolg van arbeidsgeskille en beskou dit as onaanvaarbaar dat daar geen aandag aan die probleem gegee word nie.
‘n Nuwe waterpyplyn is verlede jaar aangelê om die probleem hok te slaan, maar is vandag steeds nie in werking nie. Daar is ook reeds voor 2014 vasgestel dat die kapasiteit van die verouderde opgaardam in Dewetsdorp só klein is, dat dit skaars genoeg water vir een dag aan inwoners kan voorsien.
Dit het tot gevolg gehad dat die konstruksie van ’n nuwe opgaardam met ’n kapasiteit van sowat 2 megaliter teen ’n koste van sowat R22 miljoen genoodsaak is.
Meer as 5 jaar na die voltooiing van die nuwe opgaardam staan dit egter steeds dolleeg en in onbruik weens waterlekkasies wat van dag een af voorgekom het. Die opgaardam is gevolglik ongeskik verklaar vir gebruik.
Derduisende rande se pompe, toerusting en kragkabels is sedertdien geplunder en gevandaliseer weens die gebrek aan sekuriteit en toesig.
Die munisipale bestuurder, adv. Tankiso Mea, het tot op hede geeneen van die talle Artikel 38-vrae in verband met die voortslepende waterkrisis beantwoord nie. Dit is duidelik dat die regerende party geen erns maak van inwoners se basiese reg tot water nie siende dat die probleem al vir jare bestaan sonder enige poging om die probleem op te los.
Dewetsdorp word afgeskeep deur die Mangaung-metro met betrekking tot enige vorm van dienslewering en inwoners trek geen voordeel sedert die dorp se inlywing by die metro nie.
Die VF Plus sal aanhou om volgehoue druk op die stadsbestuurder en die munisipaliteit te plaas om te verseker dat omstandighede vir die dorp en sy inwoners verbeter.