Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Departement van Openbare Werke probeer publiek flous met spoke

Terwyl spookwerkers ooglopend toegelaat word om belastinggeld te steel spog die minister van openbare werke dat hy “zero toleransie” vir korrupsie en bedrog het, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se woordvoerder oor openbare werke.

Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat van die departement ook gesê die minister en sy adjunk staan soos ‘n Pontius Pilatus hul hande in onskuld oor Nkandla omdat hulle bloot Nkandla se probleme geërf het.

Mnr. Groenewald sê volgens die adjunk-minister, Jeremy Cronin, het hulle kwansuis alles in hul vermoë gedoen om die Nkandla-probleme op te los en is die saak nou selfs oorgegee aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) om te ondersoek.

“Nou kan hulle niks verder doen behalwe om hul hande in onskuld te was nie.Het die minister al met sy kollega in die NV of met die polisie gepraat oor Nkandla? Wat doen hulle daaromtrent? Het hy al met die polisie gepraat en vir hulle al die nodige inligting gegee? Wat doen hulle daarmee? Waarom sloer die ondersoek so lank? Nee, die minister kan hom gewis nie oor Nkandla verontskuldig nie.

“Van hierdie podium is vandag hoeveel keer gepraat oor die uitgebreide openbare program vir die skepping van werk. Ses miljoen werkgeleenthede moet teen 2019 geskep word. Maar die ouditeur –generaal (OG) se verslag wys duidelik in die finansiële jaar van 2014/2015 dat die werkgeleenthede nie behoorlik geverifieer kan word nie.

“Daar is nie genoeg bewyse op die stelsel dat hierdie mense daar werk nie. Inteendeel, die OG het selfs bevind dat daar dooie mense op die stelsel is wat werk en ‘n salaris kry. Dooie mense kan nie werk nie. Hulle spook. En hopelik spook hulle by die mense wat hierdie salarisse namens hulle kry.

“Dit is korrupsie. Die vraag is wat het die minister daaraan gedoen? Het hy gaan kyk aan wie word hierdie geld uitbetaal? Dit is belastingbetalers se geld wat misbruik word. Wie druk dit in die sak? Dit is wat die minister moet doen. Hy moet daardie spoke opspoor.

“Maar dit is mos verkiesingsjaar. Dit is maklik om te sê die ANC-regering skep ses miljoen werke. Die teendeel is waar en daar is groot werkloosheid in Suid-Afrika. Die minister mislei die publiek met die sogenaamde suksesse van hierdie program.

“Die minister moet aandag gee aan die korrupsie in sy departement, en ophou om homself en die publiek hieroor om die bos te lei,” het dr. Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.