Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Departement van arbeid het dubbelstandaarde en sy vyandigheid teenoor private sektor moet stop

(Begrotingsdebat in parlement: Arbeid)

Die minister van arbeid, Thulas Nxesi, probeer 'n mooi prentjie skets van prestasies, planne en programme wat die lewe van werkers in Suid-Afrika sal verbeter.

Die ironie hiervan is dat die departement en die regerende party die indruk probeer skep dat hulle goeie sosialiste is wat altyd optree in die belang van die werkers teen die sogenaamde uitbuiting van kapitalisme. Dit terwyl dit juis hulle is wat werkers faal.

Wanneer die ANC versuim om sy eie werknemers te betaal, is die departement en sy arbeidsinspekteurs nêrens in sig nie.

Wanneer ANC-beheerde munisipaliteite versuim om derdeparty-aftrekkings van werkers oor te betaal, skitter die departement in sy afwesigheid.

Tans kan 62 werknemers van die Mafube-plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat wat op aftrede geregtig is, nie aftree nie aangesien hul pensioenaftrekkings nie aan die fonds oorbetaal is nie.

Dié munisipaliteit skuld die pensioenfonds R173 miljoen, maar die minister is stil hieroor.

Laat daar egter net ‘n bewering van ‘n oortreding van arbeidswetgewing wees deur ‘n groot sake-onderneming of ‘n boer, en die departement is skielik baie luidrugtig.

Die mandaat van die departement is nie net die beskerming van werknemers nie, maar ook om werkskepping te stimuleer. Die werkloosheidsyfer van 35,5% vertel die verhaal van sy totale mislukking.

Die departement is veronderstel om 'n balans te handhaaf tussen die beskerming van werknemers se regte en om ‘n gunstige omgewing te daar te stel vir die private sektor om werk te skep.

Dit sal nie gebeur solank die departement die private sektor vyandiggesind is en die regering dit al hoe moeiliker maak om sake te doen, te belê en uit te brei nie.

Werkers wag al jare vir hul werkloosversekeringfonds (WVF)- of vergoedingsfondsvoordele om uit te betaal weens die onbevoegdheid van die departement en sy entiteite.

WVF-fondse word gesteel deur bedrieglike beleggings van die openbare beleggingskorporasie (OBK), maar niemand word aanspreeklik gehou nie.

Deel van die probleem is die ANC-lede van die arbeidsportefeuljekomitee wat hul toesighoudende rol verwar met dié van beeldpoetser vir die departement.

Hulle duld nie kritiek teen die departement en sy entiteite nie. Sinvolle bydraes van die opposisie word as politieke agendas afgemaak.

Dit dra by tot die departement se swak prestasie, want niemand hou hom aanspreeklik nie.

Die werkers van Suid-Afrika verdien beter as dié onbevoegde ANC-regering.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.