Die VF Plus verwelkom die verslag van die ouditeur-generaal (OG) wat bewys dat daar verskeie probleme met die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se tussentydse verligtingsfonds (TERS) plaasgevind het in die tydperk sedert die fonds weens die nasionale ramptoestand en inperking in werking gestel is.
Die VF Plus het die departement sedert die aanvang van die fonds gewaarsku dat daar verskeie ongerymdhede by die fonds bestaan en het herhaaldelik vrae gevra oor die werking van die stelsel en veral wat betref die vertraging van betalings.
Die minister van arbeid, mnr. Thulas Nxesi, het ongerymdhede en betalingsvertragings grotendeels voor die deur van privaatsektor-werkgewers gelê.
Die VF Plus neem dus kennis van die minister se noodgedwonge optrede na aanleiding van die OG-verslag wat insluit die tydelike skorsing van die kommissaris, die hoof- finansiële beampte, hoof- operasionele beampte en hoof van voorsieningskettingbestuur.
Hoewel gevolge vir swak- en wanbestuur van openbare fondse nodig is en verwelkom word, laat dit kommer ontstaan oor verdere vertragings van betalings aan begunstigdes van die TERS-fonds, waarvan sommige sedert April nog geen betaling ontvang het nie.
‘n Verdere probleem wat regdeur die staatsdiens ondervind word, is die gesloer met dissiplinêre optrede. Dit is die tendens dat amptenare tydelik geskors word en dan vir maande, selfs jare met betaling geskors bly sonder dat die dissiplinêre prosesse afgehandel word.
Dit is van kardinale belang dat dissiplinêre stappe spoedig en binne die raamwerk van die tersaaklike wetgewing afgehandel word, veral waar openbare fondse betrokke is sodat die geskorste amptenaar òf skuldig bevind en gestraf kan word, òf sodat sy naam in ere herstel kan word.
Daadwerklike oplossings vir probleme met eise en uitbetalings deur die WVF is nou dringend nodig. Dit is goed en wel dat ongerymdhede uitgewys en aangespreek word, maar werknemers wat ernstige inkomsteverliese gely het, moet so spoedig moontlik betaling ontvang, veral dié wat steeds wag vir betalings van April en Mei.
Gewone WVF-betalings vir onder meer kraamverlof en afleggings, sloer ook en kan nie agterweë gelaat word nie. Administrasie, eisverwerkings en reaksies op navrae by die fonds, moet opgeskerp en geprioritiseer word.
Navrae: 072 997 8315