fbpx
Vryheidsfront Plus

DA stem weer saam met ANC om name te verander

Johan Powell, raadslid van die VF Plus in die Mangaung-metro, sê dat daar geen gronde bestaan om Kerkstraat se naam te verander nie. Daar is geen politiek aan die naam gekoppel nie en dit is ook nie kwetsend of neerhalend nie. Die ANC is kwaadwillig wanneer sulke name verander word. Sulke optrede is beslis nie bevorderlik vir nasiebou nie.

Op die raadsitting van 25 Februarie 2015 van die Mangaung-metro het die DA weer soos in die verlede saam met die ANC gestem dat bestaande name in die metro verander word.

Die DA het aanvanklik kapsie gemaak dat Kerkstraat se naam verander word na Oliver Tamboweg, maar nadat hulle daaroor gaan koukus het, het hulle besluit om die ANC te ondersteun. Die Vryheidsfront Plus is die enigste party in die raad wat daarteen gestem het.

Powell sê dat dit nog altyd die VF Plus se beleid is dat strate wat nie name het nie name kry voordat strate wat name het nuwe name kry. Die herbenaming van strate gaan gepaard met enorme koste vir die metro en groot ongerief vir die publiek wat in daardie strate woon en besighede bedryf.

Fief van der Merwe, raadslid van die DA, het selfs in die raadsitting voorgestel dat Hoffmanplein se naam verander moet word na Petrus Molemelaplein. Daar is alreeds tot ‘n vergelyk gekom dat Hoffmanplein een van die min name is wat nie gaan verander nie.

Powell is verheug dat strate, plekke en gebiede name gekry het wat nog nie voorheen name gehad het nie. Die VF Plus het al dikwels in die verlede op die noodsaaklikheid hiervan gewys. Nooddienste soos die SAPD, brandweer en ambulansdienste het al dikwels in die verlede aangetoon hoedat hulle werk bemoeilik word wanneer strate nie name het nie. Mense se lewens was en is nog steeds op die spel omdat baie strate nog steeds nie name het nie.

Die VF Plus doen ‘n ernstige beroep op die ANC-beheerde stadsraad om toe te sien dat alle strate in die metro van name voorsien word wat sal bydra dat die gehalte van die inwoners se lewens verbeter word.

 

Johan Powell

083 264 2741

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.