fbpx
Vryheidsfront Plus

DA-aanval op VF Plus oor simbole is oneerlik

Die VF Plus wil ‘n beroep doen op die DA of enige politieke party wat sy siening oor simbole deel, om nie ‘n ernstige saak met opportunisme en oneerlikheid in die gedrang te bring nie, maar om eerder openlik en eerlik saam te werk oor die behoud van simbole in die belang van almal in Suid-Afrika.

Gegewe die VF Plus se jarelange, bewese alleenstryd om die behoud van alle geskiedkundige simbole in die land, en in besonder dié van die Afrikaner en die uitbou van die erfenislandskap, vind die party dit betreurenswaardig en onvanpas dat die DA probeer om hierdie stryd van die VF Plus, met die oog op goedkoop stemme, verdag te maak.

Nadat die VF Plus verlede week bewus geraak het van ‘n EFF-mosie om sogenaamde koloniale simbole uit die Vrystaat te laat verwyder, insluitende dié van genl. Christiaan de Wet, het die party se Vrystaatse leier, mnr. Jan van Niekerk, dadelik daarteen beswaar gemaak.

Die VF Plus het ‘n nasionale mediaverklaring oor die aangeleentheid uitgereik wat wye mediadekking geniet het: (EFF se onsinnige mosie bevorder rassepolarisasie – 19 Oktober 2019). Die verklaring lui onder meer: “Die VF Plus sal die mosie ten sterkste teenstaan. Die VF Plus veg vir ‘n beter bedeling waar daar uit die verlede geleer word en op ‘n beter toekoms gefokus word.”.

Met gister (22 Oktober 2019) se stemming oor die mosie, het die VF Plus eerstens ‘n wysiging aan die mosie voorgestel.

Hierdie wysiging behels dat die totale inhoud van die EFF-mosie vervang word met ‘n voorstel dat die Vrystaatse Wetgewer erkenning gee aan die Afrikaner se stryd teen kolonialisme en sy bydrae tot die opbou van die Vrystaat, dat die erfenislandskap van die Vrystaat uitgebou word en dat geen simbool, monument en/of standbeeld verwyder word nie.

Die VF Plus het juis hierdie wysiging voorgestel omdat die ANC gesê het hul stem saam met die inhoud van die EFF se mosie, maar met die “prosedure” verskil.

Die erns van die VF Plus oor die saak spreek vanself en sonder enige onduidelikheid. Daarom is vandag met ontsteltenis kennis geneem van ‘n poging van die DA se leier in die Vrystaat, dr. Roy Jankielsohn, om die VF Plus se optrede in die gemelde geval verdag te probeer maak.

Dr. Jankielsohn sê onder meer in ‘n mediaverklaring: “ Dit is jammer dat die VF Plus nie by die DA aangesluit het om die mosie in sy geheel te verwerp nie, maar eerder besluit het om die mosie in 'n semantiese oefening te omskep…”

Dit is eenvoudig nie waar nie. Die feite wys duidelik op die VF Plus se deurlopende en uitgesproke teenkanting en optrede teen die EFF-mosie. Dr. Jankielsohn en die DA weet dit. Dit is betreurenswaardig dat die DA nie die VF Plus se mosie (wysiging) ondersteun het wat erkenning gee aan almal se simbole en die feit dat die geskiedenis nie verander kan word nie.

Die DA se optrede is politieke opportunisme wat geen doel dien nie. Die VF Plus sou veel eerder eerlik en openlik met ander partye wou saamwerk om die behoud van simbole en die daarstel van nuwe simbole wat vir ander gemeenskappe van waarde mag wees, sonder om bestaandes te verwyder.

Terwyl die DA goedkoop politiek hiervan maak deur die VF Plus verdag te probeer maak en aan te val, loop ons die risiko om alle simbole in die Vrystaat te verloor. Die VF Plus se wysigingsmosie was ‘n konkrete voorstel om die Afrikaner se geskiedenis en erfenis te respekteer, terwyl daar ook simbole, monumente en standbeelde bygevoeg word om die erfenislandskap uit te brei.

Kontaknommer: 082 674 6670 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.