Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Covid-19 eis staatmaker-brandweerman en GPF-lid van Vanderbijlpark

Die VF Plus in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) spreek sy medelye uit met die naasbestaandes van mnr. Willem Gouws, ‘n brandweerman en gemeenskapspolisiëringlid (GPF) van Vanderbijlpark, wat Donderdagmiddag aan Covid-19 oorlede is.

Gouws is die derde brandweerman van Emfuleni wat oorlede is nadat hulle Covid-19 opgedoen het.

Gouws, wat vir 21 jaar as brandweerman by die Emfuleni-munisipaliteit gewerk het, is deur kollegas en gemeenskapslede as ‘n ‘onbesonge held’ beskryf wat nooit te besig was om sy medemens te help nie. Hy sal onthou word vir sy vriendelikheid en sy harde werk. Hy het ook twee keer as voorsitter van die Vanderbijlpark CW-gemeenskapspolisiëringforum gedien en het in sy vryetyd patrolliediens verrig.

Die VF Plus het sedert die uitbraak van die Covid-19-pandemie die administrateurs van die Emfuleni-munisipaliteit telkens versoek om toe te sien dat brandweervoertuie asook die brandweerstasie gereeld ontsmet word. Die brandweerstasie is in November verlede jaar laas ontsmet.

Die munisipaliteit het in 2020 R2 miljoen bewillig vir die aankoop van persoonlike beskermende toerusting vir nooddienswerkers. Die toerusting het nooit die mense bereik nie en hulle was genoodsaak om hul eie handskoene en ontsmettingsmiddels aan te koop.

Die Emfuleni-munisipaliteit se onvermoë om die nodige beskermende toerusting aan te koop, plaas die lewe van nooddienswerkers in gevaar.

Die VF Plus gaan daarop aandring dat die toerusting dadelik aangekoop word en die brandweerstasie en voertuie ontsmet word.

Hierdie lewensnoodsaaklike aksie is te laat vir Whiskey 6 (Willem Gouws se roepsein) en sy afgestorwe kollegas, maar kan help om die res van die span te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.