Buitelug-lewe is sinoniem met Suid-Afrika en liefhebbers hiervan het ook nou ‘n teiken van geweldsmisdaad geword.
Dié afleiding kan gemaak word na nóg ‘n aanval op ‘n egpaar Saterdagaand by die Kolgansdam buite Fochville waar ‘n man gedood, en sy vrou ernstig beseer is. Twee mans, wat vroeër die dag met die egpaar by hul kampplek ‘n gesprek aangeknoop het, het hul gedurende die nag in hul tent oorval.
Die 58-jarige man is met ‘n klip op die kop geslaan en herhaaldelik met ‘n skroewedraaier gesteek terwyl die 60-jarige vrou brutaal met ‘n hamer aangeval is.
Die man het op die toneel gesterf en die vrou is in die hospitaal opgeneem met ernstige beserings aan haar skouers, hande, knieë en voete.
Die VF Plus maan kampeerders, stappers en hengelaars in Gauteng om voortaan maatreëls te tref om hul veiligheid tydens buitelug-uitstappies te verseker. Rolspelers in die buitelewe-toerismebedryf sal hulself dringend moet staal en voorsorgmaatreëls tref teen misdadigers wat toenemend op dié sagte teikens toeslaan.
Die Gautengse regering en sy wetstoepassingsagentskappe het reeds gefaal en kan die publiek nie meer beskerm nie.
Kontaknommers: 082 466 3786 / 062 391 1804


