'n Brand by die rolbalklub in Warrenton, Noord-Kaap, is deur twee ywerige manne en hul eie watertrok geblus, voor dit ernstige skade kon veroorsaak. Dit is die soveelste maal dat dié twee manne en die watertrok instaan waar die disfunksionele Magareng-munisipaliteit faal.
Wateronderbrekings in Warrenton se stasie-omgewing, sowel as by Warrenvale, kom gereeld voor. Dit hou verband met onderhoud aan die Vaal-Harts-kanaal en is voorspelbaar.
Tog is krane telkens vir dae lank droog en tref die munisipaliteit geen voorsorg met noodwater-voorsiening nie. Gert van Heerden en Piet Karsten, met Piet se rooi trok, bring dan verligting. Veral as die Noord-Kaap op sy warmste is.
Gert het tevore al self ingespring om gate in paaie en lekkende pype te herstel en ook die begraafplaas netjies te hou – alles in 'n poging om iets van Warrenton se vergange glorie te behou.
Navrae: 082 573 0544