Aan die hand van die aankondiging deur Bloemwater om watervoorsiening aan die Mangaung-metro-munisipaliteit te verminder vanaf 10 April 2020, eis die VF Plus dringende optrede om dié beplande watervermindering te staak.
Sonder die nodige watervoorsiening sal inwoners van die metro nie in staat wees om gehoor te gee aan die aangekondigde maatreëls om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan nie.
In die lig van president Cyril Ramaphosa se aankondiging van ‘n nasionale ramptoestand ingevolge die Wet op Rampbestuur, het die VF Plus ‘n brief geskryf aan die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, om as uitvoerende gesag dié beplande watervermindering in die metro te stuit.
Die VF Plus sal ook ‘n skrywe aan Bloemwater stuur om die entiteit in kennis te stel dat die party regstappe sal neem indien hy sou voortgaan met die beplande watervermindering.
Die VF Plus doen ‘n beroep op inwoners van die metro om persoonlike higiëne te handhaaf en sal aanhou veg vir die hulpbronne om die gemeenskap veilig te hou te midde van hierdie pandemie.
Kontaknommers: 084 206 3375 / 082 305 1540