Suid-Afrika se strafregstelsel laat die mense van die land klaaglik in die steek, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald het vandag in ‘n parlementêre debat oor die effektiwiteit van Suid-Afrika se strafregstelsel gesê ‘n bevoegde kommissaris uit die geledere van die polisie en die verwydering van die vrot appels uit sy geledere, sal die diens weer op die regte pad plaas.
“Daar is baie lede in die polisie en by justisie wat hard werk en hul beste gee om ‘n goeie diens aan die mense van Suid-Afrika te lewer, maar hulle word besoedel deur die vrot appels in hul midde. Die reg tree nie op om dié vrot appels te verwyder nie. Nou dra die goeie werkers ook aan die reputasie van die vrot appels.
“In die 2016/17-boekjaar was daar 2,1 miljoen misdade in Suid-Afrika wat geklassifiseer is as ernstige misdaad. Daarteenoor is daar net 27 000 ondersoekers in die polisie. Hoe op aarde kan net 27 000 speurders soveel dossiere ondersoek en daaraan reg laat geskied?
“Minister Fikile Mbalula het erken dat oud-kommissaris George Fivaz die laaste behoorlike kommissaris is wat die polisie gehad het. Hy het ook erken dat almal daarna nie op standaard was nie.
“En wie stel die kommissarisse aan. Dit is die president van die land. Dan is dit duidelik dat politieke oorwegings swaarder weeg as die belange van Suid-Afrika se mense.
“Ek wil vandag sê die situasie sal eers weer verbeter wanneer daar ‘n bevoegde nasionale kommissaris aangestel word uit die geledere van die polisie.
“Op die oomblik is daar suksesvolle vervolging in slegs 20 persent van alle aangemelde misdade. Dit beteken dat 80 persent van alle misdadigers in die land wegkom met hul dade,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216