fbpx
Vryheidsfront Plus

Belastingbetalers gestraf vir onbevoegdheid van Emfuleni-munisipaliteit

Belastingbetalers word weer gestraf vir die wanbestuur van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) nadat die hof gister aan Eskom ’n summiere vonnis van R1,3 miljard teen die munisipaliteit toegestaan het.

Die bedrag is deel van Emfuleni se historiese skuld van R1,9 miljard aan die kragvoorsiener wat sedert 2019 opgehoop het. Die munisipaliteit skuld Eskom tot op hede R3,5 miljard.

Dit is onwaarskynlik dat Emfuleni die geld kan betaal aangesien hy nie eers die vorige terugbetalingsooreenkomste aan Eskom kon eerbiedig nie.

Eskom het in Maart 2016 ‘n hofbevel bekom vir ‘n uitstaande rekening van R615 miljoen. In 2020 het Eskom op die munisipaliteit se roerende bates beslag gelê waarna ooreengekom is dat Emfuleni R183 miljoen per maand sal betaal om sy skuld aan Eskom te verminder.

Die Emfuleni-munisipaliteit wat deur die Gautengse regering onder gedeeltelike administrasie geplaas is, word as een van die swakste munisipaliteite in die land gereken.

Die VF Plus is van mening met ‘n gerekende bestuurspan en ‘n sterk politieke wil kan die munisipaliteit van totale ondergang gered word.

Die munisipaliteit ontvang ‘n gemiddelde inkomste van R350 miljoen per maand, maar die geld word aan krediteure betaal wat in die vorige finansiële jaar nie betaal is nie.

Eskom se aanslag op Emfuleni is maar net die begin van skuldeisers wat op betaling aandring. Randwater se uitstaande rekening beloop R1,5 miljard.

Die munisipaliteit se wanbestuur word duidelik weerspieël in sy skuldinvordering wat op ‘n algehele laagtepunt is nadat die krediteureboek die afgelope jaar vanaf R4 miljard tot R11 miljard gegroei het.

Inwoners word gestraf met rioolstortings, gebrekkige dienslewering en water- en kragprobleme weens ‘n onbevoegde bestuurspan.

Inwoners het in die komende plaaslike regeringsverkiesing die geleentheid om saam met die VF Plus op te staan en ‘n sterk boodskap uit te stuur aan die ANC dat die verval van Emfuleni nie langer geduld sal word nie.

Navrae: 076 616 2124

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.