Die feit dat kernafval vir eeue lank gevaarlik bly, is algemeen bekend. Minder bekend is dat gebruikte kernafval wat 'n elektrisiteitgenererende reaktor verlaat, nuttiger is om 'n atoombom te bou as toe dit die reaktor binnegekom het.
Die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) het om redes soos hierdie wysigings aangebring aan ‘n internasionale verdrag om die fisieke beskerming van geriewe en kernmateriaal wat vir vreedsame doeleindes gebruik word, te verbeter.
As lid van die IAEA het Suid-Afrika hierdie konvensie in 2007 onderteken en bekragting.
Die kabinet het die wysigings reeds in 2018 na die parlement verwys en die VF Plus verwelkom die feit dat dit nou dien, veral gegewe die feit dat Suid-Afrika in die ANC ‘n onbevoegde en korrupte regering in beheer het.
Die wysigings aan die konvensie verskaf ‘n lys van oortredings soos die in- en uitvoer van kernmateriaal sonder toestemming. Dit verbeter ook samewerking tussen lande rakende inligting oor onwettige aktiwiteite met betrekking tot kernmateriaal.
Dit stel gemeenskaplike standaarde vir onder meer die fisieke beskerming van kernmateriaal vir huishoudelike gebruik, berging en vervoer asook die beskerming van kernmateriaal en -geriewe teen sabotasie.
Kernkrag is sedert die ontstaan daarvan omstrede. Die meeste mense het die eerste maal daarvan gehoor toe twee atoombomme die Japannese stede Hirosjima en Nagasaki vernietig het.
Behalwe dat oorlog skielik gevaarliker was, het die vreedsame moontlikhede van veral goedkoper elektrisiteit die verbeelding aangegryp.
Die wêreld se kernmoondhede het Suid-Afrika nie met die nodige inligting hieroor vertrou nie en oorspronklike werk is by Pelindaba en Valindaba buite Pretoria gedoen.
Vreedsame en nie-vreedsame gebruike van kernkrag is nooit te ver van mekaar nie. Suid-Afrika kón bewys dat uraan verryk en kernkrag vreedsaam gebruik is, maar het wel ook atoombomme ontwikkel en gebou.
Die NP-regering was nie bereid om sulke wapens in die hande van die ANC te laat val nie.
Intussen is Koeberg, Suid-Afrika se enigste kernkragsentrale, voor voltooiing in 1982 suksesvol deur die ANC se militêre vleuel aangeval, terwyl Greenpeace in 2002 daarin geslaag het om baniere aan die gebou te hang.
In 2005 was daar die berugte “moer-in-die-reaktor”-voorval wat Kaapstad in die duister gelaat het.
Kernaanlegte is duidelik nie onaantasbaar nie. Die gebeure in 1982 en 2002 bewys dit. En by Koeberg word die hoëgraadse kernafval op die perseel geberg.
Mense met bose voornemens en die nodige kennis en vaardighede, sal daarom vir 'n paar eeue nie nodig hê om kernmateriaal te vervaardig nie, hulle kan bloot steel wat reeds vervaardig is.
Dit is duidelik dat ‘n bindende, internasionale verdrag oor die beveiliging van kernmateriaal van die allergrootste belang is.