Uitlatings oor planne soos omkeerstrategieë en besparingsmaatreëls het nou al deel van die ANC-regering se jaarlikse retoriek geword wat onderliggend is aan sy mislukkings op alle sfere van regering.
Vandag is weer gehoor dat vertroue opgebou en herstel moet word in die belastinggaarder (SARS), dat die stryd teen korrupsie en wanbestuur aan die gang is by staatsentiteite en elders, dat die regering verantwoordbaarheid vestig vanaf munisipale- tot regeringsvlak en dat onkruid soos transaksies tussen amptenare en die staat uitgeroei word.
Net so hoor ons gereeld oor optrede teen staatskaping. Die vraag is egter hoe die regering in die eerste plek in hierdie moeras beland het. Suid-Afrika beleef ‘n krisis wat die gevolg is van magsmisbruik en die plundering van staatsbates. Daar is geen politieke wil om verantwoordbare regering op alle vlakke te vestig en om skuldiges te laat boet nie.
Nasionale tesourie wys wel dat hy pogings aanwend om regeringsdepartemente, entiteite en munisipaliteite te ondersteun, te monitor en tot verantwoording te dwing.
Daar was talle ondersoeke na ongerymdhede by ander departemente deur nasionale tesourie oor die laaste tien jaar met talle verslae wat daaroor uitgebring is. Hierdie verslae moes ernstig opgeneem en geïmplementeer gewees het, maar die regering het dit geïgnoreer.
Een voorbeeld is die Vrede-suiwelprojek wat reeds jare gelede deur nasionale tesourie ondersoek is. Net so die Ace Magashule webtuiste-skandaal en die gebeure by Prasa. Baie van hierdie vergrype kon vermy gewees het indien die regering die ondersoeke ernstig wou opneem, maar dit het nie gebeur nie.
Inklusiewe groei is nie haalbaar deur die blote herverdeling van die ekonomie nie. Groei tot almal se voordeel kan net behaal word met ekonomiese groei en ‘n herstel van vertroue van die private sektor in die stelsel.
Deur die land se ekonomie te laat stagneer en die bates daarin bloot te herverdeel is niks anders nie as om die stoele op die Titanic rond te skuif. Niemand gaan daarby baat vind nie.
Skrik wakker, behandel die land se huidige probleme met erns, leef in die hede en nie in die verlede nie, dan kan daar vooruitgang kom.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216