In 1994 was 3,7 miljoen mense in Suid-Afrika werkloos. Die ANC se slagspreuk was: “Werk, werk, werk”. Vandag is 9,4 miljoen mense werkloos en apartheid kry die skuld. Die enigste afleiding wat hieruit gemaak kan word is dat iets ernstig verkeerd is met die ANC-regering se ekonomiese beleid.
Suid-Afrika se werksmag is jeugdig, en internasionaal werk só ‘n demografie dividend ekonomiese groei aan die hand. Plaaslik gebeur die teenoorgestelde en neig dit na rewolusie weens groeiende werkloosheid en ‘n toekoms sonder hoop of verwagting.
Die probleem is natuurlik dat die regering se ekonomiese beleid enersyds, en beleid wat die voorvereiste is vir ekonomiese groei soos onderwys andersyds, op die verkeerde spoor is en binnekort met die aankomende trein met die naam realiteit gaan bots.
Kom ons kyk na ‘n paar aspekte in dié verband:
1. Die bestaande arbeidsbeleid is daarop gerig om bestaande poste bloot te herverdeel en om vakbonde toe te laat om onrealistiese verhogings te eis, veral in die staatsdiens. Herverdeling vind plaas deur Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) terwyl werk al hoe skaarser raak. Dit is nie volhoubaar nie.
2. Die instelling van ‘n minimumloon is ‘n sinvolle gedagte in ‘n ideale wêreld met sterk ekonomiese groei en baie werk. In ons wêreld is dit ekonomiese selfmoord met werkers wat die grootste prys gaan betaal. Ondernemings gaan eenvoudig nie nog poste skep nie en gaan bestaande poste minder maak.
3. Die belangrikste voorvereiste vir ekonomiese groei en werkskepping, benewens private eiendom, is kwaliteit sekondêre onderwys. Ongelukkig is die stand hiervan skrikwekkend in Suid-Afrika, soos blyk uit die land se lae plek op die internasionale ranglys vir wiskunde en wetenskap. Dit beteken dat skoolverlaters slegs as laevlak-werkers in diens geneem sal word. Die meeste van hierdie werk is in die landbou- en mynbedryf. Hierdie sektore is ook 'n paar van die maklikste om te meganiseer. Dit gebeur wel en baie werksgeleenthede gaan sodoende verlore.
4. ‘n Gewilde gonswoord wat tans rakende ekonomiese groei gebruik word, is die Vierde Industriële Revolusie. Dit word gesien as 'n hefboom wat ekonomiese groei in Suid-Afrika kan bewerkstellig. Die realiteit is egter dat dit die teenoorgestelde effek kan hê. Dit sal nie net basiese indiensneming vervang nie, maar sal selfs 'n gevaar inhou vir hoëvlak-werk in die mediese-, finansiële- en regsbedrywe. Dit beteken dat ons die ekonomiese- en arbeidsdebat vir die toekoms in heroënskou sal moet neem.
5. Laastens word beleggings vanuit die plaaslike- en internasionale mark benodig om werk te skep en dit word nou benadeel weens die onsekerheid wat onteiening sonder vergoeding skep. Hierdie beleid sal groot skade aan die land se ekonomie veroorsaak.
Indien hierdie kwessies nie aangespreek word nie, sal die ekonomie sy kreeftegang bly gaan en werksgeleenthede sal soos mis voor die son bly verdwyn.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216