fbpx
Vryheidsfront Plus

Begroting: Meer bitter medisyne, prognose vererger

Vandag se begroting het meer bitter medisyne vir die land se belastingbetalers gebring, maar die prognose het vererger met die aankondiging dat die aanvanklike vooruitskatting van die begrotingstekort en die omvang van die staat se skuld, laer was as wat dit in werklikheid is.

Wat Eskom aanbetref, het die minister gefaal om ‘n werklike oplossing vir die kragvoorsiener se finansiële krisis aan te bied. Die R23 miljard wat bewillig is om Eskom finansieel te ondersteun, is nie genoeg om hom van ondergang te red nie.

Dit is teleurstellend dat die minister nie die privatisering van Eskom aangekondig het nie aangesien die VF Plus dit beskou as die enigste oplossing vir die krisis.

Staatsbesteding oorskry tans staatsinkomste met R243 miljard per jaar. Dit beteken dat daar elke weeksdag R1,2 miljard geleen moet word om hierdie tekort te finansier. Die staat se skuld is onvolhoubaar aangesien die finansieringskoste jaarliks styg en daartoe bydra dat Suid-Afrika op die rand van ‘n fiskale afgrond wankel.

Dit is positief dat die minister die staat se salarisrekening as onvolhoubaar en een van die grootste uitdagings geïdentifiseer het. Sy oplossing van vroeë aftrede van staatsamptenare is nie ‘n werklike oplossing vir die probleem nie en kan ‘n verdere tekort aan kundigheid en vaardigheid in staatsdepartemente tot gevolg hê.

Parlementslede, wetgewerslede en bestuurslede van openbare ondernemings gaan vanjaar nie salarisverhogings kry nie. Die VF Plus sou wou sien dat senior staatsamptenare soos direkteurs-generaal van departemente ook nie verhogings kry nie aangesien hulle buitensporige salarisse verdien, in sommige gevalle meer as die president.

Die begroting het geen verligting vir die reeds oorbelaste belastingbetaler gebring nie. Die teendeel het tewens gebeur met ‘n verhoging in brandstofheffings en ‘n bykomende koolstofverhoging wat op 1 Junie in werking tree. Dit is nog nie bekend hoeveel dit gaan beloop nie.

Daar is ook nie verligting wat persoonlike- en maatskappye-belasting aanbetref nie. In die lig hiervan sal daar moeilik ekonomiese groei plaasvind aangesien Suid-Afrikaners se besteebare inkomste al hoe minder word.

Die VF Plus is van mening dat daar ‘n gunstige omgewing vir die privaatsektor geskep moet word om te belê en werk te skep. So ‘n omgewing is slegs moontlik indien beperkende regulasies en wetgewing verslap word, belastingkortings ingestel word en beleidsekerheid soos oor onteiening sonder vergoeding daar gestel word.

Die kieser het op 8 Mei die geleentheid om terug te slaan teen die ANC se wanbestuur en korrupsie wat die staat se fiskus plunder. Elke stem vir die VF Plus is ‘n stem vir ‘n verantwoordbare regering met ‘n beleid wat oplossings vir Suid-Afrika se ekonomie bied.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.