fbpx
Vryheidsfront Plus

Basiese onderwys: Toegewyde onderwysers maak die verskil

(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir departement van basiese onderwys)

Basiese onderwys is op die voorpunt van die stryd teen Covid-19 en die ekonomiese gevolge van die gevolglike staat van inperking.

Bestryding van wanvoeding deur skoolvoedingskemas, juis wanneer die ekonomie ineenstort, is een van die belangrikste teenvoeters vir die negatiewe gevolge van die pandemie. Nogtans is die departement nie as een van dié in die voorste linie teen Covid-19 aangedui nie en moet daarom 'n begroting aanvaar wat met 'n netto-bedrag van R2,1 miljard ingekort is.

Dit is onmoontlik om uit die nasionale begroting vir basiese onderwys die impak van Covid-19 op skole te bepaal, want uitvoering word deur provinsiale begrotings gefinansier. Ons weet wel dat die Wet op die Verdeling van Inkomste die begrotings vir provinsies aansienlik verlaag het. Wat wel bo twyfel staan, is dat daar groot ongelykheid in die land se onderwysbedeling bestaan.

Internasionale vergelyking bring soms merkwaardige insig. Finland en Kuba is twee uiteenlopende lande, met een ding in gemeen: Hul onderwysstelsels tel onder die beste ter wêreld. Beide lande het 'n betreklik agtergeblewe onderwysstelsel binne een geslag tot die huidige status verbeter.

Verder het nie een dit deur buitengewoon groot begrotings bereik nie, maar deur 'n kultuur waarvolgens gemeenskappe onderwys as 'n gemeenskaplike kosbaarheid koester; en onderwysers hul taak as 'n roeping benader, nie bloot as 'n werk nie.

Die bron van ongelykheid in Suid-Afrikaanse onderwys is die vraag hoe onderwysers hul beroep benader. Terwyl die Volmink-verslag ernstige vergrype rakende geld-vir-poste uitgewys het, het geen vervolging plaasgevind nie.

Sommige onderwysers behoort tot 'n vakbond wat dink dit is in die haak om te staak as sake hulle nie pas nie. Vir ander is die blote gedagte van 'n stakende onderwyser weersinwekkend. Duisende sogenaamde SBL-onderwysers regoor die land werk vir 'n breukdeel van die salaris van onderwysers in die staat se diens. Tog maak dit geen verskil aan die toewyding waarmee hulle werk, of die waardering vir hul werk vanuit die gemeenskap nie.

Dit is die belangrikste ongelykheid in die Suid-Afrikaanse onderwyssektor. Waar die onderwys as 'n roeping benader word, bring geen krisis dit van stryk nie. Waar dit bloot 'n werk is, verdwyn die krisis nooit.

Navrae: 074 166 5540

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.