(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir omgewingsake, bosbou en visserye)
Die omgewing en die bewaring van natuurlike hulpbronne mag nie ondergeskik gestel word aan volhoubare ontwikkeling en huidige globale probleme soos die Covid-19-pandemie nie.
Dit sal ‘n fyn balans verg om ter wille van huidige, maar veral komende geslagte, nie die een ondergeskik te stel aan die ander nie.
Die invloed van die pandemie het gewys dat die mandaat, fondse en vermoë van die departement, wat tot nou toe reeds bedenklik was, nog verder getoets gaan word.
Soos op alle ander gebiede waar die ANC in beheer is, het ook hierdie departement Suid-Afrika se inwoners skouspelagtig gefaal soos onteenseglik blyk uit die minagtende besoedeling van die land se kosbare waterbronne.
Stortingsterreine wat ook die departement se verantwoordelikheid is, is eweneens ‘n gemors.
Die moderne stortingsterrein op Dewetsdorp het R8 miljoen gekos toe dit skaars vier jaar gelede voltooi is. Vandag is dit ‘n geplunderde geraamte.
Vyf jaar nadat besluit is om Lindley se stortingsterrein, wat onwettig binne 500m van die dorp geleë is, te verskuif, is dit steeds nie gedoen nie.
Die Môrelig-stortingsterrein binne ‘n woonbuurt van Bethlehem was veronderstel om slegs vir tuinafval te wees. Dit het sedertdien ontaard in ‘n groot stortingsterrein met enigiets van baba-doeke tot meubels.
Bothaville en Wesselsbron se stortingsterreine voldoen aan geen minimum vereiste nie en is vervuil met pesdraende knaagdiere soos rotte.
Frankfort se stortingsterrein is in ‘n myngroef wat oorstroom met reën. Die besoedelde water loop oor in die Wilgerivier en eindelik in die Vaalrivier.
By Wesselsbron pomp die munisipaliteit riool uit in ‘n oop veld buite die dorp. Dit stroom deur ‘n aangrensende informele woongebied en besoedel eindelik grondwater.
Al hierdie voorbeelde en die gesondheidsgevare daaraan verbonde, is herhaaldelik onder die owerhede se aandag gebring, ook die afgelope maand en selfs gister, maar nie die plaaslike, provinsiale of nasionale regering het ‘n vinger verroer nie.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het in ‘n stadium ingegryp om iets te doen aan die besoedeling van die Vaalrivier, en die feit dat die situasie bloot vererger het, spreek waarskynlik boekdele van die weermag se huidige vermoë.
Voeg daarby die gevolge van beurtkrag op hospitale, watersuiweringswerke en rioolstasies wat veroorsaak dat bloed, riool en ander afval in skoon, drinkbare water beland, en die prentjie lyk al hoe bleker.
Die polisiëring van omgewingswetgewing is ewe bedenklik en daar is feitlik geen gevolge vir oortreders nie. Die VF Plus het male sonder tal klagte teen oortreders soos munisipale bestuurders ingedien, insluitend gister, maar daar kom niks van nie.
Dit sal net verander indien daar werklike en streng gevolge vir oortreders is en dit sal net gebeur met die nodige politieke wil wat beswaarlik van die ANC verwag kan word.
Navrae: 082 490 6663