fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC wys sy ware kleure deur hom openlik te skaar by terreur-aanval op Israel

Die ANC het vanmiddag ondubbelsinnig onderstreep dat die regering van Suid-Afrika die terreuraanslag van Hamas op Israel steun en het hom sodoende by ’n terreurgroep geskaar teen die res van die wêreld.

Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengi-Motsiri, het Israel die skuld gegee vir die aanval op sy soewereine grondgebied en die bloedvergieting wat die lewe van honderde burgerlikes geëis het.

Terwyl die aanval die wêreld laat regop sit het en dit allerweë as terreur beskryf word met beelde op sosiale media van vroue, bejaardes en kinders wat voor die voet aangeval, vermoor en ontvoer word, het die ANC in ’n verklaring gesê die optrede van die Hamas-militante is “geregverdig”.

Luidens die verklaring het Hamas “geen keuse gehad” as om homself teen “Israel se aggressie en geweld” te verdedig nie.

Die realiteit is dat Hamas ’n totaal onverwagte en koelbloedige aanval sonder provokasie op gewone burgerlikes uitgevoer het en duisende vuurpyle op Israelse woongebiede afgevuur het.

Die ANC en die regering van Suid-Afrika wys hierdeur dat hy in sy hart steeds niks anders as ’n bevrydingsbewing is nie en daarom nooit kon ontwikkel tot ’n regering van ’n demokratiese land wat oor sy eie soewereiniteit moet waak nie.

Die VF Plus veroordeel die Hamas-aanval op Israel ten sterkste. Suid-Afrika en al sy mense sal die prys betaal vir die regering se sentimente jeens ’n terroriste-organisasie.

Die aanval het ‘gister n dag ná die 50ste herdenking van Israel se onafhanklikwording begin en herinner aan die aanval in 1973 deur Egipte en Sirië op Israel wat die begin was van volskaalse oorlog in die Midde-Ooste.

Die VF Plus het vanoggend sy meegevoel betuig met die ambassadeur van Israel in Suid-Afrika, mnr. Eli Belotsercovsky.

Belotsercovsky het aan die VF Plus gesê die aanval is nog lank nie afgeweer nie en dat ‘n groot aantal gyselaars in Israel gevange geneem is en aangehou word.

Die VF Plus spreek hiermee sy opregte medelye uit met die naasbestaandes van slagoffers en hoop opreg dat die ontvoerde persone ongedeerd gevind sal word.

Hierdie aanval is barbaars, sonder enige uitlokking en kan op geen manier goedgepraat word nie.

Die VF Plus beklemtoon sy ondersteuning vir die staat van Israel en gee erkenning aan Israel se reg om homself en sy burgers met alle middele tot sy beskikking te verdedig.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.