Die VF Plus het die nooddienste van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit versoek om dringend te sorg dat brandkrane in Krugersdorp en ander dorpe deeglik onderhou word om ʼn waternood te vermy soos wat tydens gister se brand beleef is.
Drie huise in die Rand en Dal-woonbuurt is Sondagoggend in ʼn brand verwoes. Twee graslapa’s het ook aan die brand geslaan.
ʼn Veldbrand het in ʼn kloof aangrensend aan die woonbuurt ontstaan wat vinnig na die huise versprei het.
Die kloof-gebied langs Rand en Dal is berug vir haweloses wat daar slaap en vuur maak.
Brandkrane in Swallowstraat was buite werking en die brandweer moes water vanuit inwoners se swembaddens pomp om die brand te probeer blus.
Brandweerwaens vanaf Randfontein is ook na die tonele ontbied.
Die VF Plus en inwoners het verversings en gebottelde water aan brandweermanne voorsien terwyl hulle besig was om die brande te blus.
Die VF Plus sal druk op Mogale City plaas om toe te sien dat al die brandkrane in die munisipaliteit gediens word.
In hierdie geval is net eiendom verwoes, maar die volgende brand kan lei tot moontlike lewensverlies indien die nodige noodmaatreëls nie in plek is nie.