fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC wys opnuut hy is uit voeling met die realiteit van mislukte plaaslike regering

Die ANC se skokkende onbevoegdheid en minagting vir die erns van die ineenstorting van plaaslike regering in Suid-Afrika, is onderstreep toe die departement van samewerkende regering niemand gestuur het na die parlement se portefeuljekomitee-vergadering vir samewerkende regering en tradisionele sake wat in die departement se eie gebou in Pretoria gehou is nie.

Die departement het boonop nog nie eens in hierdie laat stadium sy jaarverslag voltooi nie aangesien sy finansiële state laat ingehandig is by die ouditeur-generaal (OG) vir die jaarlikse oudit.

Dit dien opnuut as bewys dat die regering nie ernstig is oor plaaslike regering nie en dat sy verskoning dat alle plaaslike regeringsprobleme van apartheid geërf is, van alle waarheid ontbloot is.

Die probleme is hoofsaaklik te wyte aan die ANC-regering se onbevoegdheid en die afbreek van plaaslike regeringstelsels en -strukture weens regstellende aksie, kaderontplooiing, korrupsie en bedrog.

Volgens die VF Plus grens die optrede van die departement deur nie self voor die komitee te verskyn om verskoning aan te teken nie, aan arrogansie en ‘n minagting van een van die grootste krisisse wat die land in die gesig staar in die vorm van plaaslike regering. Dit is ook niks anders nie as die ondermyning van die betrokke komitee.

Dit is duidelik dat die ANC op alle vlakke van regering bloot krisisbestuur toepas in Suid-Afrika en nie optree in die beste belang van die belastingbetaler nie. Die VF Plus sal aanhou om die regering se foute bloot te lê sodat die kiesers ‘n ingeligte besluit kan neem met die plaaslike verkiesing in 2021.

Kontaknommer: 079 409 8342

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.